Die georganiseerde landbou vergader vandag (14 Januarie) met die Noord-Kaapse landboudepartement om die vloedsituasie in dié provinsie te bespreek.
Mnr. Johan van Rensburg, uitvoerende hoof van Agri Noord-Kaap, sê samesprekings sal gehou word om die situasie tans, planne vir die toekoms en die moontlikheid van die verklaring van ‘n rampgebied te bespreek.
Die gebied kan weens oorstromings moontlik vir die tweede keer in twee jaar as ‘n rampgebied verklaar word. Ná 2010 se oorstromings is sowat R100 miljoen se ramphulpfondse toegestaan, maar die boere sê hulle het nog nie ‘n sent hiervan ontvang nie.
Enorme skade
Van Rensburg sê boere het enorme finansiële skade gelei, en baie wingerde sal totaal verwyder en oorgeplant moet word.
“ ’n Boer anderkant Upington sê al 90 ha van sy wingerde is totaal onder water, jy kan nie eers die toppe sien nie. Daar is sediment in dié vloedwaters, so byna alle oorstroomde wingerde langs die riviere gaan oorgeplant moet word – wat ‘n reuse-uitgawe gaan wees. Om nie eers te praat van al die gewasse wat versuip het nie. Baie, baie noorwalle het ook ingegee wat nog baie geldelike skade beteken. Maar vir nou kan die boere niks doen nie en moet hulle sit en wag en hoop dat die water sak.”
Nog oorstromings
Intussen is inwoners langs die Oranje- en Vaalrivier gewaarsku om op ‘n gereedheidgrondslag te wees om te ontruim, sou nog water afkom. Me. Edna Molewa, Minister van Waterwese en Omgewingsake, het die publiek gewaarsku om bewus te wees van die vloede, maar het gesê dat die land nie paniekbevange hoef te wees nie.
Luidens ‘n berig op Nuus24.com is damme, riviere en strome oor groot dele van die land onder druk ná weke van reën en daar is kommer oor die moontlikheid dat hul walle gaan oorstroom.
Reën word tot Dinsdag (18 Januarie) in die noordelike dele van die land voorspel en volgens mnr. Percy Morokane, ‘n woordvoerder vir rampbestuur, is nooddienste op bystand.
Kyk na fotogalerye van die waters:
Vloed by Grootdrink - Januarie 2011
Vloed by Upington - Januarie 2011
Die water dreun oor Augrabies-waterval
Magtige water by Douglas - Januarie 2011
14 Januarie 2011