
Boere word versoek om die Noord-Kaapse departement van landbou, omgewingsake, landelike ontwikkeling en grondhervorming toegang tot hul grond te bied terwyl hulle spook om bruinsprinkaanswerms in 37 dorpe onder beheer te bring.
Luidens ’n verklaring deur die departement is veral Pofadder in die Namakwadistrik, asook Hanover en De Aar in die Pixley ka Seme-distrik brandpunte. Die eerste uitbrekings van bruinsprinkaanswerms in die provinsie het ná goeie reën in Oktober voorgekom.
Me. Mase Manopole, Noord-Kaapse LUR vir landbou, omgewingsake, landelike ontwikkeling en grondhervorming, sê in die verklaring die bruinsprinkaanswerms is reeds in die derde voetgangerstadium en sal binne dae gereed wees om te vlieg. As hulle nie onder beheer gebring word nie, sal hulle baie skade aan weivelde en plantegroei aanrig.
Sy sê die departement sukkel om toegang tot onbewoonde of afgeskeepte plase te kry waar die eienaars nie beskikbaar is nie, of nie aan die departement se spuitspanne toegang wil bied nie. “Dit skep ’n groot probleem met die bekamping van die swerms en skep die risiko dat ons selfs meer plantegroei en weiveld kan verloor, terwyl ons nog probeer herstel ná die voortslepende droogte van meer as ’n dekade.”
Manopole sê daar is steeds boere wat nie sprinkaanswerms op hul plase aanmeld nie. “Dit skep ’n groot probleem aangesien dit baie moeilik is om sprinkane te bekamp as hulle volgroeid is en rondvlieg.”
Sy versoek alle grondeienaars om met die departement saam te werk om die uitbrekings te bekamp en gevolglik voedselsekerheid in die provinsie te verseker.
Tot dusver het die departement 1 034 mense opgelei om die sprinkane te bekamp.
’n Bank sprinkane
Dr. Gerhard Verdoorn, bedryfsbestuurder van CropLife SA, sê sprinkaanswerms kom in veel meer as net 37 dorpe in die Noord-Kaap voor – swerms kan oral in dié en ander provinsies aangetref word. “Ek het ’n video gesien van swerms by Cradock wat myle aanmekaar loop. Dit lyk grillerig! Iemand het my ook gebel en vertel van ’n aanmekaar swerm van net verby Middelburg tot by Nieu-Bethesda. Dit gaan nou woes.”
Hy sê swerms kom in die Oos-Kaap onder meer naby Gqeberha voor. “Die swerms is al by Kookhuis verby. Dit is al by Cradock verby. Swerms is al naby Queenstown opgemerk. Dit lyk nie goed nie.”
Hy sê vanjaar se swerms is buitengewoon groot. “Verlede jaar was die swerms wat voorgekom het kolle van ’n hektaar of twee. Gedurende Mei vanjaar was daar ’n swerm van 20 000 ha in die Vrystaat. Hierdie jaar is die swerms plate en plate sprinkane aanmekaar. Dit laat my dink aan die einde van 1986 toe die hele Karoo net een groot bank sprinkane was.”
Volgens Verdoorn is daar voldoende gifstowwe en spuite beskikbaar. Hy sê dit bly noodsaaklik dat boere swerms onmiddellik moet aanmeld. “Boere wat nie wil hê dat daar op hul plase gespuit moet word nie, moet ten minste iets probeer doen om die swerms te bekamp. Jaag jou skape of springbokke oor hulle. Sleep takke of ’n band met jou bakkie oor hulle.
“Ons moet enigiets doen wat ons kan om die swerms te probeer bekamp, want dinge is nou nog rustig. Volgende week begin die goed vlieg en dan is die hel los.”
Lede van die publiek en boere word versoek om enige swerms aan me. Mulalo Matodzi by 083 326 7773, me. Vuyokazi Mpumlwana by 084 760 8176 of dr. Ikalafeng Kgakatsi by 072 198 9882 aan te meld. Boere kan swerms ook by die kantoor van die departement van landbou op De Aar aanmeld by 053 631 3122 of 053 631 3261, of by dr. Gerhard Verdoorn by 082 446 8946.