Mnr. Carel van der Merwe, ’n boer van Van Wyksvlei, sy trust en maatskappye skuld gesamentlik die Land Bank meer as R80 miljoen.
Hy het ’n aansoek gebring om tydens ’n geskeduleerde hofsitting in Oktober sy sakereddingsplan te laat goedkeur, en wil ook ’n artikel in die Maatskappyewet (Wet 71 van 2008) wat “onregverdig is teenoor individue en trusts” ongrondwetlik laat verklaar. Ingevolge huidige wetgewing kan slegs ’n maatskappy wat in finansiële moeilikheid is die hof vir sakeredding nader, maar die keuse is nie vir individue of trusts beskikbaar nie.
TLU SA het by ’n hofsitting op 5 Augustus gevra om as vriend van die hof toegelaat te word in dié saak. Die organisasie is nie betrokke by die meriete van die saak nie, maar steun Van der Merwe se houding dat die Maatskappyewet onregverdig is teenoor individue en trusts en ongrondwetlik verklaar moet word. Intussen het Land Bank egter einde Julie in ’n teenaansoek versoek dat Van der Merwe se sakereddingsplan van die hand gewys word.