
Inwoners van die Karoo was verlig toe die twee maatskappye wat aansoek gedoen het om die reg om uraan op 570 000 ha grond te ontgin, hul aansoek onttrek het.
Ongelukkig was hul verligting van korte duur, want die maatskappye, Tasman Pacific Minerals Limited en Lukisa JVCo, het kort daarna aansoek gedoen om ontginningsregte op ’n “kleiner” oppervlakte van 73 000 ha.
Die kaart toon die gebiede waarvoor Suid-Afrikaanse en Australiese maatskappye vir uraan-ontginningsregte aansoek gedoen het. Kaart: Verskaf
Dr. Stefan Cramer, wetenskapsraadgewer van die instituut van Suid-Afrikaanse geloofsgemeenskappe (Safcei), sê dié verwikkelinge laat hulle nou op ’n kleiner gebied konsentreer. “Ons glo ons kan die kleiner aansoek teenstaan met dieselfde argumente wat die maatskappye hul groot aansoek laat onttrek het. Die feit dat die proses nou van vooraf moet begin, gee ons ook tyd om die inwoners van die Karoo in te lig.”
Cramer sê hulle put hoop uit die verandering in die politieke landskap ná die onlangse munisipale verkiesing. “Daar is nuwe spelers in die Karoo en kernkrag is ’n belangrike nasionale debat. Die hooggeregshof in Pretoria sal in Desember ons versoek om die bilaterale ooreenkoms met Rusland bekend te maak, aanhoor.”
Cramer sê hoewel Suid-Afrika van die beste omgewingswetgewing in die wêreld het - veral ten opsigte van die openbare konsultasieproses - word dit geleidelik ondermyn deur “knap tydraamwerke, ontoeganklike dokumente, tegnokratiese taal en swak implementering”.
Boonop word omgewingskonsultante deur die aansoeker betaal. ’n Ander onreëlmatigheid is dat die departement van Minerale Hulpbronne, wat veronderstel is om mynwese te bevorder, ook omgewingswetgewing implementeer. “Dit kan tot botsende belange lei. Daarbenewens het die publiek dikwels nie die kundigheid om behoorlik aan die openbare deelnameprosesse deel te neem nie.”
Besoedeling
Me. Margot Hayward wat saam met haar man, Chris, op die plaas Rooidraai naby Aberdeen boer, sê geen plaas kan bedryf word in stof wat met uraan besmet is, water- en lugbesoedeling en bestraling nie. Mense en diere gaan beïnvloed word. Sy is ook bekommerd oor die moontlike maatskaplike gevolge van ’n invloei van groot getalle manlike werkers na die beplande myne.
Water en waterverwante kwessies is een van hul grootste bronne van kommer. Al is die Karoo meestal droog, het hulle genoeg bewyse van groot en onvoorspelbare vloede wat van tyd tot tyd voorkom. “Die Kariegarivier wat hier verbyvloei, loop in die Beervleidam naby Willowmore en van daar na die monding van die Gamtoosrivier by Port Elizabeth.
Ons vrees dat giftige stowwe van die uraanmyne op die manier oor ’n groot oppervlakte versprei kan word en in ondergrondse waterdraers inloop en grondwater besoedel. Ons weet nie hoe ver die uitwerking kan strek nie.”
“Moenie passief wees nie”
Cramer sê hulle het reeds meer as 1 000 mense en organisasies oortuig om as belanghebbende en geraakte partye te registreer om sodoende aan die openbare konsultasieproses deel te neem. “Meer as 300 individue en organisasies het wesenlike besware teen die ontginning van uraan ingedien. Die omvang van die kommer en diepte van kennis het die regering beïndruk, en ons het uiteindelik ’n openbare gesprek in die Karoo aan die gang oor uraan-ontginning.”
Hawyward moedig boere en grondeienaars aan om te verenig en gesamentlik hul teenkanting teen die ontginning van uraan te toon. “Hulle moet as belanghebbende en geraakte partye registreer en hul kommer opper deur voor die einde van Oktober ’n e-pos aan mnr. Tim van Stormbroek by tim@ferretmining.co.za te stuur. Hulle kan ook hul familie en werkers aanmoedig om as belanghebbende en geraakte partye te registreer.
“Moenie passief wees nie, en beperk toegang vir prospekteerders wat nie die vereiste klaring het om op privaatgrond te werk nie.”
Navrae: stopuraniumminiginthekaroo@gmail.com of Stop Uranium mining in the Karoo op Facebook.