Liefhebbers van kitskos kan rustig slaap: ‘n Nuwe bakkery wat op volsterkte 30 000 hamburgerrolletjies per uur kan lewer, is pas in Bellville-Suid geopen.
Die nuwe East Balt SA-bakkery, wat teen ‘n koste van R170 miljoen opgerig is, spog met hoogs gesofistikeerde tegnologie en is ‘n gesamentlike onderneming van die geïntegreerde pluimveemaatskappy Astral en die Amerikaanse bakmaatskappy East Balt.
Die bakkery se grootste kliënte is KFC en McDonalds. Die kitskosmaatskappye vereis dat die rolletjies wat hulle koop, aan streng standaarde van konstante eenvormige smaak, grootte en voorkoms voldoen.
Verteenwoordigers van die maatskappye het die East Balt-bakkery geloof vir sy vermoë om juis konstante gehalte te lewer.
Mnr. Chris Schutte, hoof uitvoerende beampte van Astral, het by die opening van die bakkery gesê aangesien ‘n bakkery graan as basis het, pas dit goed in by hul pluimveesake. “Dieselfde volgehoue gehalte wat ons hoenderprodukte vereis, word ook deur die kopers van ons rolletjies vereis.”
Hoewel die bakkery mettertyd ander kliënte in die kitskos- en kleinhandelmark sal werf, sal KFC en McDonalds, wat na verwagting in die toekoms aggressief sal groei, altyd voorkeur kry. Schutte glo eweneens dat hulle mettertyd vir KFC kan oortuig om ook hul hoendervleis by Astral te koop.
Een van die interessantste aspekte van transaksies met die East Balt-maatskappy is dat dit met ‘n handdruk van vertroue beklink word, en daar geen kontrakte gesluit is nie.
Me. Helen Zille, premier van die Wes-Kaap, het die bakkery geopen en gesê die feit dat die bakkery in die Wes-Kaap geopen is, dui op vertroue in die provinsie se leierskap en vermoë om beleggers te lok.
2 Desember 2010