Graan SA slaag met sy program om uitstekende swart boere te ontwikkel, maar weens oorproduksie in die graanbedryf het hulle nie ’n mark vir hul produkte nie.
Me. Jane McPherson, bestuurder van boerontwikkeling, sê dit help nie om die bedryf te transformeer, maar dan nêrens te hê om met die produkte heen te gaan nie. Sy het in Durban by ’n beleggingsberaad vir landboubesighede gesê daar sal dringend gekyk moet word na markuitbreiding.
Sy sê daar is ’n reuse-oorskot mielies in die land, koring kan ook nie meer winsgewend geproduseer word nie en binnekort sal daar ook ’n surplus sojabone wees weens ’n gebrek aan verwerkingskapasiteit.
Boere leer vaardighede
Graan SA is betrokke by die vaardigheidsontwikkeling van 3 000 boere regoor die land op grond wat wissel van 1 ha tot 1 000 ha. Sy sê van dié boere vaar uitstekend, maar dit help niks as hulle nie winsgewend kan boer nie.
Die Regering moet die bedryf beskerm teen die storting van buitelandse produkte op plaaslike markte en ook dink aan uitbreiding deur onder meer die vervaardiging van bio-brandstof.
McPherson sê uit 12 jaar se ervaring van boerontwikkeling het Graan SA geleer dat ’n groepsbenadering nie werk nie. Sy meen dit help ook nie om trekkers aan groepe beskikbaar te stel nie omdat niemand verantwoordelikheid aanvaar nie. Die gebruik van kontrakteurs moet eerder vervang word met die ontwikkeling van boere, sê sy
Die beleggingskonferensie is ’n gesamentlik poging van Africa Investor, ’n internasionale groep, in samewerking met die KwaZulu-Natalse departement van landbou, omgewingsake en landelike ontwikkeling
1 September 2010