
Die name van die nuwe direksie onder voorsitterskap van Isaacs, voormalige hoof van die departement van landbou in die Wes-Kaap, is einde Julie bekend gemaak. Isaacs sê hoewel die direksielede al van die begin van Julie af aangestel is, moes hulle wag tot almal hul aanstellings amptelik aanvaar het. Dié proses, te midde van die inperkingsmaatreëls, is eers afgehandel kort voor die eerste raadsvergadering op 29 Julie.
Die vergadering was ’n virtuele een wat sy van Infruitec af gelei het en het bykans vyf uur lank geduur. In die vergadering is die onderskeie werkskomitees saamgestel en die direksie het op die finansiële state afgeteken.
Die ander direksielede is dr. Shadrack Moephuli, uitvoerende hoof van die LNR, prof. Raymond Auerbach, dr. Konanani Liphadzi, prof. Nicolaas Olivier, prof. Phatu Mashela, dr. Saskia van Oosterhout, mnr. Goodman Gcaba, dr. Naudé Malan, dr. Monodowafa Mashaba, dr. Poncho Mokaila, dr. Steven Cornelius en me Nalini Maharaj.
Isaacs sê haar nuwe posisie was heeltemal teen haar verwagtinge in. “Ek het die departement van landbou in die Wes-Kaap verlaat met die gedagte dat ek gaan aftree. Toe kom dié wending.”
Sy sê die landbou bly een van die belangrikste sektore waarin behoorlik belê moet word. Sy weet nie of mense besef hoe belangrik dit is om in navorsing te belê om voedselsekerheid te kan hê nie. “As ons nie hierin bly belê nie, sal die probleme ons inhaal. As ’n mens nou iets in die landbou doen, sien jy die resultate dalk eers oor 15 jaar. Dit gaan nie net oor die LNR nie, maar oor landbounavorsing in sy geheel.”
Sy sê die ander baie belangrike faktor is vennootskappe. “Ons is gou om vingers te wys, maar daar wys altyd drie vingers terug na jou. Landbounavorsing is nie net die verantwoordelikheid van die LNR nie. Almal wat by navorsing betrokke is, moet saamwerk tot voordeel van die landbou en hulself.”