
Maswanganyi werk al tien jaar by Senwes. Hy was tot nou verantwoordelik vir menslike hulpbronne, korporatiewe bemarking, geriewe en sentrale sake-administrasie. Die portefeuljes van breë swart ekonomiese bemagtiging, strategie en lewensvatbaarheid word nou hiertoe bygevoeg.
Mnr. Francois Strydom, besturende direkteur van Senwes, het in 'n verklaring gesê die Senwes-direksie glo Maswanganyi sal met sy omvattende ervaring in korporatiewe sake en leierskap 'n materiële bydrae kan maak in die verdere ontwikkeling en uitvoering van die maatskappy se strategieë.
Volgens Strydom is dit 'n groot kompliment is vir Senwes se leierskapsontwikkeling dat die posisie uit eie geledere gevul word. “Dit skep kontinuïteit en momentum in 'n fase waar die Senwes-groep die beste talent vir toepaslike posisionering, strategieë en beleide vereis.”
Maswanganyi se vorige posisies sluit in direkteur van Excellent Opportunities en Acresa Consulting, en stigter en besturende direkteur van die Seed-stigting wat klein en mediumgrootte ondernemings deur die lewering van finansiële en ander dienste ontwikkel het.
Hy beklee verskeie direkteurskappe en is lid van die direksie van die Nelson Mandela-kinderfonds.