
Suid-Afrika sukkel al lank om hierdie hernubare hulpbron op dreef te kry, terwyl sy Brics-vennoot Brasilië reeds jare lank etanol uit suikerriet produseer en tans die tweede grootste produseerder van hierdie brandstofproduk ter wêreld is.
Die Suid-Afrikaanse suikerbedryf, wat die afgelope drie jaar hard moes werk om die bedryf van ondergang te red, sien die gebruik van suikerriet vir brandstof as ’n groot oplossing.
Me. Thandiwe Maimane, woordvoerder van die departement van energie, sê die insette van belanghebbendes word nog bespreek.
Die departement het reeds in 2007 die nywerheidstrategie vir biobrandstof goedgekeur. Met die strategie word beoog dat biobrandstof landwyd minstens 2% van die vloeibare brandstof moet uitmaak.
In 2012 het die departement die verpligte regulasies vir vermenging goedgekeur wat in Oktober 2015 in werking getree het. Hierdie regulasies maak dit verpligtend vir die vervaardigers van petroleum om hul petrol met etanol – van 2% tot 10% van die volume – te vermeng en petroleumdiesel met minstens 5% biodiesel te vermeng.
Lewensvatbare program
Wat sal dit verg om ’n lewensvatbare program vir biobrandstof in die land te skep, wat diversifikasie vir die suikerbedryf kan bring en ook werkskepping in suikerproduserende gebiede stimuleer?
Dr. Thomas Funke, handelshoof van SA Canegrowers, sê die sleutel vir ’n lewensvatbare biobrandstofprogram is drievoudig.
Hy sê daar moet duidelike rigtinggewende beleid wees vir die biobrandstofbedryf en groot beleggings moet gemaak word. Sonder duidelike rigting van die regering sal dit nie kan gebeur nie.
Daar moet ook ’n volhoubare meganisme wees wat sal toesien dat die biobrandstof wat geproduseer word, mededingend is met fossielbrandstof vir die verbruiker, maar daar moet ook aansporings wees vir die produsent. Dit kan bereik word deur ’n heffing op ’n sekere hoeveelheid liter petrol te plaas en die produsent kan daardie geld in die vorm van ’n subsidie kry.
Tans is daar nie ’n vaste prys vir biobrandstof nie en dus word niks geproduseer nie. ’n Afsetooreenkoms of mark moet geskep word.
“Die regering moet seker maak dat die vermenging van biobrandstof in die nasionale brandstofpoel afgedwing word, want as dit nie afgedwing word nie, sal daar nie die vermenging van biobrandstof wees nie.”
Etanolproduksie van suikerriet
Die plaaslike suikerbedryf lewer sowat 20 miljoen ton suikerriet. In die huidige seisoen word gereken dat die plaaslike mark sowat 12 miljoen ton in die vorm van suiker sal verbruik. Die oorskot sal op die wêreldmark verkoop moet word. Die wêreldmark vir suiker is ’n residuele mark en alle lande wat suiker produseer, verkoop hulle oorskot-suiker teen baie lae pryse.
Dit is dus ongewens om suiker op die wêreldmark te verkoop.
Funke sê 8 miljoen ton suikerriet sal sowat 640 miljoen liter etanol produseer en sowat 5% tot die nasionale petrolpoel kan bydra.
Hy wys egter uit dat die suikerrietoes van jaar tot jaar kan wissel na gelang van die reënval en dat die suikerrietbedryf nie altyd alleen die volle verlangde voorraad kan lewer nie.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.