Me. Louise Cooke is as direkteur en die nuwe hoof uitvoerende beampte van Parmalat SA aangestel. Parmalat S.p.A, die Italiaanse hoofmaatskappy van die groep het dié aankondiging Donderdag, 4 November, bekend gemaak.
Cooke volg mnr. Nick Wentzel op wat die maatskappy in Junie die jaar verlaat het. Hy het op 1 Augustus 2010 sy nuwe pos as hoof-uitvoerende beampte van Reunert Beperk, ‘n genoteerde finansiële maatskappy wat op die elektronika fokus, opgeneem.
Wentzel se bedanking het gevolg kort na die maatskappy sy melkprys aan boere vir die eerste keer die jaar met 30c verlaag het.
Cooke se aanstelling is onmiddellik van krag. Sy sal, buiten die twee reeds genoemde poste, ook vir die uitvoerende bestuur van Parmalat se werksaamhede in lande, soos Mosambiek, Swaziland, Botswana en Zambië, verantwoordelik wees.
Sy het twee dekades se senior bestuursondervinding in die verpakte goedere bedryf. Voor dat sy dié pos beklee het, was sy die besturende direkteur van Cadbury in Suider-Afrika. Sy het sedert 2007 dié onderneming na ses ander Afrikalande uitgebrei.
4 November 2010