
Suid-Afrikahet tans geen omvattende bruikbare inligting beskikbaar om die stand van weerstandigheid teen antibiotika by produksiediere te bepaal nie. ’n Moniteringsprogram in dié verband word egter binnekort van stapel gestuur.
Só sê prof. Moritz van Vuuren, emeritusprofessor in mikrobiologie verbonde aan die Universiteit van Pretoria.
Volgens ’n onlangse nuusbrief van die RPO bestaan geen sentrale punt in Suid-Afrika waar bevindinge oor weerstandigheid verkry kan word nie.
Wie moet die proses dryf?
“Dit is tans die gesamentlike verantwoordelikheid van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (DLBV) en die Departement van Gesondheid.
"Ernstige konsultasie is nodig oor wie die proses behoort te dryf,” lui ’n verslag oor ’n onlangse vergadering van die Nasionale Dieregesondheidsforum in dié nuusbrief.
“Dit is ook kommerwekkend dat veeartse en die veebedrywe agtergelaat word. Verskeie vergaderings is gehou met die mediese professie, wat nie bewus is van die werk wat veeartse doen nie,” sê die verslag.
Diereproduksie-eenhede
Van Vuuren het aan Landbouweekblad gesê die DLBV het onlangs met belanghebbendes in die verskillende diereproduksiebedrywe vergader om ’n moniteringsprogram op die been te bring. ’n Soortgelyke program om die gebruik van antibiotika te monitor, is in 2007 beëindig weens geldtekorte en omdat ander kwessies dringender aandag geverg het.
“Die oogmerk van die moniteringsprogram se sal wees om die huidige stand van weerstandigheid teen antibiotika te bepaal en om te kyk of dit besig is om toe te neem,” sê hy.
Die program is in die lewe geroep ná ’n hoëvlaksitting van die Verenigde Nasies oor die bedreiging wat bakteriële weerstand teen antibiotika vir die mensdom inhou. Al 193 lidlande het daar besluit om programme vir monitering en bestryding daarvan in te stel.
Bakteriële weerstand
Van Vuuren sê die onverantwoordelike gebruik van antibiotiese middels bevorder weerstandigheid.
“Bewusmaking oor die implikasie van weerstandigheid is ’n taak wat nog vir die diereproduksiebedryf voorlê. Niemand wil hierdie middels, wat boere vir hul vee moet gebruik, onttrek nie, maar hierdie middels sal omsigtiger gebruik moet word,” het hy gesê.
Dit is veral in gevalle waar antibiotika as ’n roetine- of voorkomende middel gegee word, waar weerstandigheid vining kan ontwikkel.
“Ons doen dus ’n beroep op boere om seker te maak dat hulle die middels oordeelkundig gebruik om weerstandigheid te verminder,” sê hy.