Innoverende nuwe kursusse wat landbou-ekonomie en voedselwetenskap of verskillende handelsrigtings kombineer, word van volgende jaar af deur die departement landbou-ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch aangebied.
Die nuwe kursusse is daarop gemik om bestuurders doeltreffende vir voedselverwerkingsbesighede op te lei, maar ook om boere te help om hul produkte self te verwerk.
Opleiding van bestuurders
Prof. Theo Kleynhans van die departement landbou-ekonomie sê die gedagte met die kombinering van landbou-ekonomie en voedselwetenskap is nie om volwaardige voedselwetenskaplikes op te lei nie, maar wel bestuurders in die voedselbedryf wat met vertroue met voedselwetenskaplikes kan praat en goeie besluite vir die besigheid kan neem.
“Ek dink die verwerkingsektor gaan die kursusse goed ontvang.” Die program in landbou-ekonomiese ontleding en bestuur tesame met voedselwetenskap maak dit vir die studente moontlik om ’n wye spektrum vakke te volg, wat strek van grondkunde, gewas- of diereproduksie aan die begin van die aanbodketting, tot vakke, soos landbou-ekonomie, finansiële rekeningkunde, finansiële, beleggings-, logistieke en bemarkingsbestuur tot voedselwetenskap nader aan die verbruiker.
Kleynhans meen die kursus sal ook waardevol wees vir studente wat wil gaan boer en daarin belang stel om dit wat hulle produseer, te verwerk. In die voedselwetenskapmodules wat as deel van die kursus gevolg word, leer studente onder meer oor produksie- en verwerkingsprosesse en hoe om plantaardige en diereprodukte te hanteer.
“Ons probeer hierdeur die hele spektrum van die plaas tot by die verbruiker dek.”
Meer keuses
Nóg ’n nuwe kursus by die departement landbou-ekonomie is een wat landbou-ekonomie met ’n verskeidenheid kursusse in die universiteit se handelsfakulteit kombineer, en is daarop gemik om bestuurders vir landboubemarkings-, beleggings- en finansiële ondernemings op te lei.
Die keuse is wyd: Die program bied sewe moontlike hoofvakke. Kleynhans sê die program in landbou-ekonomiese ontleding en bestuur behoort ’n gewilde keuse te wees by studente met ’n belangstelling in landbou-ekonomie én die handelsomgewing.
Vir meer inligting kan die departement landbou-ekonomie by tel. 021 808 4758 gebel word.
18 Oktober 2011