
Suid-Afrika se eerste groep van 13 swart makelaars wat oesversekering bemark, het in hul eerste somerproduksieseisoen die verwagtinge oortref.
Mnr. Dini Nondumo, bestuurder van verkope en verspreiding by Land Bank Insurance Company (LBIC), het by die Nampo-Oesdag gesê die maatskappy het gehoop die groep sou R2 miljoen tot R5 miljoen se premies in die 2016/’17-seisoen inbring. Hulle het egter R28,3 miljoen se premies verkoop.
Mnr. Maniki Rakgalakane, besturende direkteur van die LBIC, het by navraag gesê nog 'n groep swart makelaars word vir die 2017/’18-seisoen opgelei. Hulle is almal onafhanklike makelaars of tussengangers wat geakkrediteer en goedgekeur is om die LBIC se oesversekering en sy nuwe bateversekering te verkoop. Hulle verkoop ook multi-risiko-oesversekering en uitgebreide haelpolisse.
Verkoop aan alle boere
Die makelaars verkoop versekering aan alle boere, nie net opkomende boere nie.
“Opkomende boere is egter hul natuurlike voorkeurgroep danksy hul vermoë om taal- en kultuurgrense te bowe te kom, en ook gegewe die sentrale rol wat opkomende boere in die transformasie van die sektor moet speel,” sê Rakgalakane.
Behoefte aan opvoeding
Rakgalakane sê met die hulp van LBIC-konsultante is gevind die grootste probleem in die mark vir opkomende boere is die behoefte aan verbruikersopvoeding oor die doelwitte en gebruike van oesversekering.
“Oesversekering word as duur beskou, weens 'n gebrek aan begrip oor die voordele en nadele van sulke dekking. Dié makelaars werk daaraan om beter begrip vir die totale produkaanbieding te kweek.”
Rakgalakane sê die swart makelaars breek struikelblokke in kommunikasie af en deel kennis op 'n manier wat die opkomende boere kan verstaan.