
Agri SA vra daarom dat daar vir die landbou – soos in die geval vir ander sektore - ook net ’n 1,5%-verhoging bo die inflasiekoers in 2021 moet wees.
Agri SA het in sy kommentaar op die minimumloon-kommissie se aanbevelings gevra dat die aanbeveling om plaaswerkers se minimum loon in ooreenstemming met die nasionale minimum loon te bring, oor drie jaar ingefaseer moet word. Die kommissie wil hê dit moet eenmalig in 2021 gebeur, wat beteken die minimum loon vir die landbou sal eensklaps van R18,68/uur tot R21,69/uur moet styg.
Mnr. Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA, sê dit is noodsaaklik dat werkers regverdig betaal moet word, maar dit kan nie ten koste van boerderye se oorlewing wees nie. “Agri SA ondersteun die kommissie se mandaat om armoedeverligting te bevorder en ongelykhede met vergoeding uit die weg te ruim met die jaarlikse hersiening van die minimum loon. Die noodsaaklikheid vir die armste huishoudings om toegang tot werk te hê en vir diegene met werk om dit te behou, moet egter die hoofklem wees in die tyd van die Covid-19-pandemie.”
Hy sê daar sal werkverliese wees by boere wat geen verhoging kan bekostig nie, om nie eens ’n dubbelsyfer-verhoging te noem nie. “Agri SA is bekommerd dat ’n verhoging van 16,1% tot besliste werkverliese in die sektor sal lei en ook tot onbekostigbare voedselpryse vir verbruikers.”
Inperking, droogte, finansiering
Van der Rheede sê die meerderheid kommissarisse is klaarblyklik van mening dat die impak van Covid-19 op die landbou nie so ernstig was nie. “Dit is nie korrek nie. Die wyn-, sybbokhaar- en wolbedryf is aanvanklik nie tot noodsaaklike dienste verklaar nie en het tot stilstand gekom. Hierdie bedrywe moet nog herstel van verliese tydens die streng inperking. Ander bedrywe is ook erg geraak omdat verbruikers se koopkrag beperk was en die vraag na baie voedselsoorte afgeneem het.” Die tabakbedryf is ook hard getref.
Daarby was die impak van die uitgerekte droogte in sommige gebiede die ergste in meer as 100 jaar. Dit het volgens Van der Rheede voedselsekerheid, werkverskaffing en groei onder kwaai druk geplaas.
Die landbousektor is ook onder druk weens ’n gebrek aan finansiering, onder meer oor die finansiële posisie van die Land Bank wat sowat 30% van finansiering aan boere verskaf. Die bank het aangedui dat hy nie nuwe kliënte kan help of aan die behoeftes van bestaande kliënte sal kan voldoen voor verdere regeringshulp nie.
In Agri SA se kommentaar wys Van der Rheede die kommissie daarop dat ’n verhoging met dubbelsyfers in die verlede ook ernstige implikasies vir werkverskaffing in die landbou ingehou het. Toe die minimum loon in 2003 ingestel is, het die belegging in landboumasjinerie om hande-arbeid te vervang, met 83% toegeneem. Die Universiteit van Kaapstad het ook bereken werkgeleenthede het in die jaar ná die instelling van die minimum loon met 17% afgeneem.
In 2013, ná die arbeidsonrus by De Doorns, het sommige werkgewers se arbeidskoste met 50% gestyg. Die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP) het toe in ’n ondersoek bevind boerderye kon nie meer winsgewend bedryf word met loonverhogings van dubbelsyfers nie, en dat struktuurveranderinge aan die boerderye aangebring moes word. Dit het tot werkverliese gelei.