
Dít is hierdie keer nie sommer hoorsê of skindernuus nie. Nee, dit is amptelik en uit die mond van Nissan Suid-Afrika self dat sy nuwe Navara vroeg volgende jaar in die land sal wees.
Volgens Nissan gaan die nuwe Navara ’n nuwe standaard stel as die eerste bakkie wat met ’n swaardiens vyfskakel-spiraal-agterveerstelsel toegerus is. Dit bied glo uitstekende rygerief sonder om die veldry- en vragdravermoë te beperk.
Aanvanklik gaan twee 4X4-dubbelkajuitmodelle met die keuse van ’n sesgang-handratkas of ’n sewegang-outomatiese ratkas plaaslik beskikbaar wees. Alle modelle sal aangedryf word deur Nissan se nuwe 2.3 liter dubbelturbo-dieselenjin wat 140 kW drywing teen 3 750 r/min en 450 Nm se wringkrag teen vanaf 1 500 r/min tot 2 500 r/min lewer. Nissan sê sy Navara gebruik 6,9 l/100 km en dit klink regtig asof die nuweling net dan en wan aan ’n dieseldeurweekte lappie ruik!
’n Paar Suid-Afrikaanse hardebaard-motorjoernaliste het onlangs met die nuwe Navara in Marokko se berg- en woestynlandskappe kennis gemaak. Dit was veral die bakkie se rygerief én veerststelsel wat hulle tot talle lofprysinge aangespoor het.
Die veelskakelspiraal-agterveerstelsel is egter nie nuut as sulks nie, want dit word redelik algemeen (veral ook in sportnutsvoertuie) gebruik. Land Rover byvoorbeeld, gebruik dié veerstelsel reeds jare baie suksesvol in hulle Defenders.
Dit sal egter interessant wees om te sien of Nissan ook hierdie voortreflike nuwe veerstelsel in die enkelkajuit-Navara’s gaan inspan...