
Die organisasie, onder voorsitterskap van dr. Theo de Jager (ook voorsitter van die Wêreldboere-organisasie), sal steun op die infrastuktuur en hulp van verskeie ander organisasies, soos AfriForum, die Instituut vir Rasseverhouding en die FW de Klerk-stigting.
De Jager beklemtoon dat Saainie ’n alternatiewe landbou-unie is nie.
“Dit is ’n netwerk en gaan geen boereverenigings of streekorganisasies hê nie. Ons wil ook nie meeding met enige bestaande landbou-unie nie.
“Ons het ’n leemte in bestaande besture ontdek met ’n paar plaasbesettings en veral die Akkerland-onteiening verlede jaar,” sê hy.
’n Onteieningsbevel is verlede jaar kort voor Paasnaweek op die Akkerland-boerdery beteken op grond van ’n betwiste grondeis deur ’n gemeenskap met aandele in ’n beplande steenkoolmynontwikkeling in die Soutpansberg.
“Daar was niemand wat onmiddelik werk daarvan gemaak het om hierdie boere in nood by te staan nie,” sê De Jager.
Noodhulp
“As daar skielik 1 000 plakkershutte op jou grond staan of jy ontvang ’n onteieningsbevel, help beleidsbeïnvloeding op politieke vlak niks. Dan het jy onmiddellike hulp nodig. In die geval van byvoorbeeld die besetting van ’n plaas noord van Pretoria verlede jaar en die Akkerland-onteiening kon ons iets regkry toe verskillende organisasies kragte saamgesnoer het,” sê De Jager.
“Saai wil bestaande organisasies met vermoëns om boere by te staan, se hulp koördineer wanneer ’n familieboer in die knyp beland.
“In ’n netwerk van organisasies kan mense hulpbronne verpoel. Ek het aanvanklik met 17 verskillende organisasies hieroor onderhandel. Die meeste van hulle steun Saai.”
De Jager sê die direksie sal uit agt lede bestaan, waarvan vyf uit landbougeledere kom en sommige selfs uit Agri SA se bestuur.
Lede sal deur middel van ’n inbelsentrum gewerf word. Daar word veral op familieboerderye klem gelê.
'Nie opofferbaar'
Volgens De Jager was die duiwel los op ’n onlangse konferensie by die Universiteit van Wes-Kaapland waar gesê is 80% van Suid-Afrikaanse boere produseer net 20% van die kos.
“Die indruk is geskep dat die 80% soort van opofferbaar is. Ons gaan vir die belange van hierdie familieboere veg. Ons glo nie hulle is opofferbaar nie. Die meeste van hierdie boere is in elk geval nie by die georganiseerde landbou betrokke nie.”
De Jager sê Saai probeer nie iets vir almal wees nie.
“Ons sal nie bedrywe of landboubesighede betrek nie. Dit is net ’n netwerk vir familieboerderye.”
Die stigting van die organisasie val saam met die dekade vir familieboerderye wat wêreldwyd in Maart begin, volgens De Jager.
“Uiteindelik sal die mark bepaal wat word van so ’n organisasie. Die laaste ding wat ons wil doen, is om in gevegte met landbou-unies betrokke raak. Ons wil net ’n diens lewer waar daar tekortkominge is. Waar landbou-unies dieselfde diens lewer, wil ons met hulle saamwerk.”
Lede wat aansluit, sal ledegeld van sowat R100 per maand betaal. Elkeen sal ’n app ontvang wat landbounuus sal verskaf en ook ’n noodfunksie het waar ’n boer onmiddellik hulp kan kry in die geval van ’n krisis, soos ’n aanval of plaasbesetting.
’n Gedeelte van die ledegeld (sowat 15%) gaan in ’n noodfonds vir regshulp belê word.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.