
’n Nuwe organisasie vir opkomende boere, die African Farmers’ Association of South Africa (Afasa), is in Boksburg in wording as ’n teenvoeter vir die kwynende Nafu SA.
Die vergadering sou aanvanklik deel gewees het van ’n vernuwingsplan vir Nafu SA, onder leiding van mnr. Aggrey Mahanjana, groephoofbestuurder van die nasionale organisasie vir opkomende rooivleisprodusente (Nerpo).
Verlede week het die Nafu-leierskorps egter ’n Hooggeregshofbevel verkry wat Mahanjana en Nerpo verbied om die vergadering in Nafu se naam te hou of Nafu daaraan te koppel.
Die byeenkoms, wat deur sowat 2 500 mense by die luukse Birchwood-konferensiesentrum, bygewoon word, is toe verander in ’n “stigtingsvergadering van ’n nuwe vereniging vir Afrika-boere van Suid-Afrika”. Groot borde met dié inligting daarop is oral aangebring.
Die afgevaardigdes het gister ’n besluit aanvaar om die nuwe vereniging te stig en die res van die konferensie sal benut word om dit af te handel en ’n nasionale leierskorps te kies.
Mnr. Lulu Johnson, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee vir landbou, bosbou en visserye, het op die vergadering gepleit vir ’n verenigde landbou-organisasie en gevra die twee strydende partye moet probeer om hul geskille by te lê.
“Daar moet net een organisasie vir opkomende boere wees en uiteindelik ook net een organisasie wat alle boere verteenwoordig,” het hy gesê. Weinig ander hooggeplaastes, soos wat op die program aangedui word, het sover die konferensie bygewoon.
Mnr. Lourie Bosman, DA-woordvoerder vir landbou, het in ’n kort boodskap gesê dit is die boere en die landbou wat belangrik is. “Julle moet jul leiers kies en hulle moet namens julle praat,”het hy gesê.
11 April 2011