
Suid-Afrika se streng nuwe invoervereistes vir lewende hawe uit Namibië gaan vir slagbeeste en slagskape “gestroomlyn” word om handel weer moontlik te maak, maar met inagneming van die beskerming van Suid-Afrika se dieregesondheidstatus.
Dit is luidens ’n verklaring van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye wat belanghebbendes op 10 Junie by ’n vergadering besluit het.
Verteenwoordigers van Suid-Afrika en Namibië se veeartsenydienste en van die Suid-Afrikaanse lewendehawebedryf het die vergadering bygewoon.
Dit volg nadat Suid-Afrika se streng nuwe invoermaatreëls rakende dieregesondheid die invoer van lewende hawe uit Namibië sedert 1 Mei tot stilstand gebring het.
Dr. Gideon Brückner, onafhanklike kundige oor kwessies rakende die Wêreldhandelsorganisasie en die internasionale organisasie vir dieregesondheid (OIE) het as bemiddelaar by die vergadering opgetree.
Luidens die departement se verklaring is besluit daar sal een standaard operasionele prosedure (SOP) wees vir beeste en skape wat ingevoer word met die doel om in Suid-Afrika geslag te word. Die SOP sal geld vir diere wat regstreeks geslag gaan word asook dié wat eers na voerkrale gaan.
Sekere wesentlike kwessies in die voorgestelde SOP vereis egter nog verdere insette.
Die lewendehawebedryf sal inligting oor minimum strukturele en bestuursvereistes vir voerkrale en slagplase by die departement indien, terwyl die departement maatreëls vir nie-nakoming sal bepaal.
Die departement sal alle insette in een SOP saamvoeg en voor einde Junie ’n vergadering belê waar die SOP afgehandel kan word.
Die gekonsolideerde SOP sal dan met al die provinsiale veeartsenydienste bespreek word.
Mnr. Gerhard Schutte, hoof uitvoerende beampte van die Rooivleisprodusente-organisasie, het by navraag gesê die vergadering het in ‘n goeie gees plaasgevind en partye besef die SOP moet dringend voltooi word.
* Lees ook die berig oor dié saak in die Nambiese publikasie, Republikein.