Wanneer ’n mens die kusdorp Struisbaai naby Kaap Agulhas nader, lê ’n informele nedersetting aan jou linkerkant. Dit is Struisbaai-Noord, met sy inwoners wat meestal bestaansvissers is en ook talle gesinne wat van Sassa-toelaes afhanklik is.
Af in Dolfynlaan ry jy verby ’n paar sinkdakhuise, en hoenders kruip onder ’n buurman se heining uit. Oorkant ’n baksteenhuis sonder deure of vensters lê ’n brak in die oggendson.
Aan die einde van dié straat begroet ’n groot wit-en-grys gebou jou. Skaars tien maande gelede was hier nog ’n oop stuk veld. Vandag is dit die tuiste van die Struisbaai-vaardigheidskool, ’n dubbelverdiepinggebou van R36 miljoen.