
Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling onderhandel vir die uitvoer van hoendervleis na die Verenigde Arabiese Emirate (VAE), skaapvleis na Koeweit, beesvleis na Oman, China en Jordanië, lewende beeste, skape en bokke na Katar en teelmateriaal van bokke na Brasilië. Só het mnr. Mooketsi Ramasodi, die adjunkdirekteur-generaal vir landbouproduksie by die departement, aan die parlement se portefeuljekomitee vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling gesê.
Verskeie markte is heropen nadat dit gesluit was ná die uitbreking van bek-en-klouseer in Januarie 2019. Dit sluit die uitvoer van bees-, vark- en lamsvleis, asook suiwelprodukte na ander Afrikalande, beesvleis na China, die VAE en Jordanië, en wol na China in.
Ramasodi het gesê onderhandelinge vir die uitvoer van beesvleis na Saoedi-Arabië, beesvleis en wol na Maleisië, vismeel na China en teelmateriaal na Brasilië het ’n finale stadium bereik.
Sedert 2018 voer Suid-Afrika skeepsvragte situs en lusern na China, appels na Taiwan, sitrus na Amerika, bloubessieplantmateriaal na Peru en tafeldruiwe na Viëtnam uit. Die mark vir tafeldruiwe na Viëtnam was aanvanklik toe, maar die departement het met behulp van die Suid-Afrikaanse ambassadeur in dié land dit binne drie dae oopgestel gekry, het Ramasodi gesê.
Verskeie protokolle vir die uitvoer van vrugte het die finale onderhandelingsfase bereik en sal binnekort onderteken word. Die sluit die uitvoer van pere, advokado’s en sitrus China, Japan en die Filippyne in. Navorsing is ook onderweg vir die toekomstige uitvoer van tafeldruiwe na Mexiko, die Filippyne en Suid-Korea, avokado’s na Taiwan en appels na Thailand.
Mnr. Mandla Mandela, voorsitter van die komitee, het gesê die komitee weet terwyl Suid-Afrika sy produkte na ander lande uitvoer, verwag daardie lande van Suid-Afrika om hul produkte in te voer.
“Daarom moet die departement van handel en nywerheid saam met die departement van landbou werk tot die wedersydse voordeel van Suid-Afrika en die lande waarheen hy uitvoer.”