
Om internasionale erkenning vir Veritas, een van Suid-Afrika se voorste wynkompetisies, te bewerkstellig, is hoog op die agenda vir mnr. Christo Pienaar, wat pas tot die nuwe voorsitter van die SA Nasionale Wynskouvereniging (SANWSV) verkies is.
Pienaar, keldermeester en bestuurder by Nuy-wynkelder naby Worcester, is die jongste voorsitter nog. Ná hy meer as 10 jaar as voorsitter van die SANWSV se tegniese komitee gedien het, neem hy nou die vereniging se voorsitterstoel by mnr. Charles Hopkins van De Grendel oor. By die tegniese komitee was Pienaar verantwoordelik vir die SA Jongwynksou en die Veritas-toekennings se beoordelingsprosesse.
“As jy kyk na my voorgangers, mense soos Lourens Jonker, Duimpie Bayly en Danie de Wet, besef jy die voetspoor en fondasie is goed gevestig. Eerder as om ’n suksesresep te verander, gaan my uitdaging wees om klein veranderinge hier en daar aan te bring om die kompetisies relevant te hou,” sê Pienaar.
“Ek glo dat die twee wynskoue wat die SANWSV namens die wynbedryf aanbied, ’n kardinale rol speel om kwaliteitwyn vir die SA verbruikers te bekroon en dat die erfenis van hierdie skoue wynmakers en wingerdboukundiges verder sal aanspoor om die beste wyne te maak wat ons in die Kaapse Wynland kan produseer.”
Verandering en vernuwing
Sommige vernuwingsplanne, wat spruit uit ’n dinkskrum wat Hopkins einde verlede jaar met 30 bedryfsrolspelers gelei het, sal vanjaar al ingestel word. “Dis belangrik dat Veritas, wat nou al 27 jaar met ons is, nie stilstaan of op sy louere rus nie. Dieselfde geld die SA Jongwynskou, wat al van 1833 af kom. My uitdaging gaan beslis vernuwing wees.”
Van die eerste veranderinge wat hy onder sy voorsitterskap gemaak aanbring, is om Veritas se beoordelingsprosesse meer in lyn met internasionale norme te bring. “Ons wil al die beoordelingspanele verklein van sewe proeërs na vyf. Daar sal ook op elkeen ’n Kaapse wynmeester ingesluit word, sodat dit na spesialisvelde beweeg. Daar sal ook op die meeste ’n medialid of bemarker of wingerdboukundige dien. Ons beweeg ook na die honderdpunt-proe-stelsel, waar ons in die verlede die twintigpuntstelsel gevolg het.”
Pienaar sê die SA Jongwynskou en Veritas het die wynkompetisiebedryf in Suid-Afrika begin. Sedertdien het dit gegroei tot sowat 30 plaaslike wynkompetisies. “Ons wil die SA Jongwynskou en Veritas weer hul regmatige plek gee as die bedryfskompetisieleiers. Ons wil veral sorg dat die Veritas-embleem of -plakker internasionale erkenning geniet. Om dit reg te kry moet ons hoër profiel internasionale beoordelaars of media op ons panele kry.”
Lang loopbaan
Veritas het tans nie ’n kommersiële borg nie, wat “ons hande bietjie vasbind”, maar die moontlikheid is nie uitgesluit vir die toekoms nie. Pienaar se wynmakersloopbaan het in 1996 afgeskop, nadat hy sy graad in wingerdbou en wynkunde en landbou-ekonomie aan die Universiteit van Stellenbosch behaal het.
Hy het twee oesjare in Australië en Amerika deurgebring voor hy by Rooiberg-wynmakery in Robertson aangesluit het. Daarna het hy vier jaar lank by Slanghoek-wynkelder gewerk voor hy in 2002 as Nuy-wynkelder se keldermeester aangestel is.
Foto: 1 Christo Pienaar sê dis nie nodig om Veritas en die SA Jongwynskou se suksesresep te verander nie; al wat nodig is is klein veranderinge wat vernuwig gaan bring.