
Die wysigingswetsontwerp op gelyke indiensneming is eers op ys nadat daar nie in die nasionale vergadering ’n kworum was om daaroor te stem nie.
Verskeie organisasies, insluitend landbou-organisasies, het in skriftelike kommentare hul kommer gelig oor die mag wat die minister van indiensneming en arbeid gegee word om “kwotas” te stel vir enige ekonomiese sektor.
Agri Wes-Kaap het veral kommer geopper oor die uitwerking wat die stel van kwotas vir die landbousektor in die provinsie inhou, aangesien die demografie anders is as die res van die land se provinsies.
Agri SA het as oplossing voorgestel dat sektorale teikens eerder in vennootskap met die ekonomiese sektore gestel moet word en dat die minister bewus moet wees van die werklikhede in die landbousektor en oorweeg wat bereikbaar is en hoe lank dit gaan duur.
Geen kworum
Daar was nie ’n kworum nie omdat opposisiepartye, wat nie met die wetswysiging saamstem nie, saamgespan en die nasionale vergadering verlaat het. Dit het meegebring dat die ANC nie die nodige kworum gehad het om die wet deur te druk nie.
Me. Heloïse Denner, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor arbeid, sê die VF Plus is ten sterkste gekant teen kosmetiese transformasieteikens en beperkende arbeidswetgewing wat sektorale teikens daarstel om transformasie op ’n kunsmatige wyse tot nadeel van ekonomiese groei en werkskepping afdwing.
“Vrywillige voldoening aan billike indiensnemingsteikens deur werkgewers in die private sektor sal ingevolge die wetswysiging nie meer van toepassing wees nie en strenger voldoening deur middel van sertifikate, soos deur die departement uitgereik, sal afgedwing word.
“Dit is die VF Plus se standpunt dat die arbeidsmark tans oorgereguleer word. Wetgewing soos die nasionale minimum loon, die arbitrêre uitbreiding van onbillike, kollektiewe bedingingsooreenkomste en wetgewing soos hierdie wetsontwerp is teenproduktief en ’n groot struikelblok vir werkskepping.”
Vernietigingswapen
Die DA sê by monde van dr. Michael Cardo, sy skaduminister vir indiensneming en arbeid, dat die wysigingswetsontwerp ’n wapen vir ekonomiese massavernietiging is en nie ’n hulpmiddel tot transformasie soos die ANC mense wil laat glo nie.
“Dit is ’n stomp stuk gereedskap wat die minister van indiensneming en arbeid onverskillig gebruik om die arbeidsmag te vervorm om die rasbehepte regerende party tevrede te hou.
“Toekomstige geslagte sal die gevolge moet dra; onwelkome naskokke vir ’n ekonomie wat reeds in opskudding is.”
Cardo sê die ANC kyk na die hoogste vlak van bestuur in die private sektor in teenstelling met die openbare sektor en is verskrik oor hul gelaat. “Daar is te veel wittes. Bruin mans sonder gestremdhede word oorverteenwoordig, terwyl swart gestremde vroue onderverteenwoordig is. En dan kom die ANC tot die gevolgtrekking dat die regering werkers moet rondskuif asof hulle pionne op ’n skaakbord is. Trouens, die ANC gaan ’n stap verder, hy probeer om deur diktat ’n heeltemal nuwe skaakbord te skep.”
Hy sê as die ANC die speelveld gelyk wil maak, of meer ekonomiese geleenthede wil skep, moet die beskikbare vaardighede vermeerder word met ’n eersteklas onderwysstelsel en die bevordering van omstandighede nodig vir ekonomiese groei.