Die nuwe wolseisoen begin Woensdag (17 Augustus) wanneer sowat 14 000 bale wol per veiling in Port Elizabeth onder die hamer kom.
Die seisoen open te midde van groot onsekerheid op wêreldmarkte oor die stand van die wêreldekonomie en die skuldlas van Amerika en lande in die Euro-sone, wat ’n dempende uitwerking op pryse kan hê. In Australië, waar veilings verlede week begin het, het die mark teruggesak. Die plaaslike kopers verwag egter dat die mark relatief stewig sal bly.
Die afgelope seisoen was een van die bestes in dekades. Die sterk vraag na wol het pryse skerp laat styg en Cape Wools se Merino-aanwyser het ondanks ’n sterk rand met 68% gestyg om op R97,29/kg (skoonwol) te sluit. Dit is die hoogste vlak sedert die tagtigerjare. In Amerikaanse dollars bereken, was die styging 82%.
Wolproduksie het teruggesak
Altesame 284 826 bale is in die pas afgelope seisoen aangebied waarvan 99% verkoop is. Die totale verkoopswaarde was R1,67 miljard, wat 30% hoër as die vorige seisoen was. Wolproduksie het egter met 4,4% tot 46,1 miljoen kg teruggesak.
Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het ’n ooreenkoms met die Chinese owerhede bereik om die wagtydperk vir die uitvoer van onverwerkte wol uit distrikte wat met slenkdalkoors besmet was, na drie maande te verkort en wag nou op finale diplomatieke bevestiging van China.
Die Departement se vereis tans dat die wagtydperk begin nadat ’n distrik vry van die siekte verklaar is, terwyl die Chinese ingestem het dat die wagperiode ’n aanvang kan neem drie maande nadat die laaste uitbreking in ’n distrik aangemeld is. Daar word gehoop dat die Departement oorreed sal kan word om tot dié datum in te stem.
Intussen kwalifiseer alle wol wat vanjaar geskeer is en uit onbesmette distrikte kom vir uitvoer na China. Wol wat egter geskeer is terwyl ’n distrik nog as besmet verklaar is, sal nie kwalifiseer nie. Dit kan egter steeds na ander lande uitgevoer word.
Cape Wools het ’n beroep op produsente gedoen om hul vee so spoedig moontlik teen Slenkdalkoors in te ent.
16 Augustus 2011