
Danksy die jaarlikse gholfdag het elke oord R145 000 ontvang. Met die eerste Grip4Charity in 2006 het die twee begunstigdes elk sowat R23 000, wat wys hoe die gholfdag gegroei het.
NWK se verskaffers is die hoofdeelnemers aan hierdie geleentheid. Die inskrywingsgeld en die opbrengs van ’n wynveiling daardie aand word aan begunstigdes geskenk.
Mnr. Johan Bezuidenhout, groepbestuurder van korporatiewe bemarking en kommunikasie, het met die tjekoorhandiging verlede week gesê dié geleentheid het deur die jare R2,4 miljoen aan 31 begunstigdes geskenk.
Mev. Truidie van Schalkwyk, bestuurder van die Brits Rusoord, het gesê waar die ouetehuis voorheen tot 40 selfsorg-inwoners gehad het, is daar nou slegs drie. “Gemeenskappe se besteebare inkomste is minder en gesinne wag daarom nou tot die bejaardes in hul midde eers verswak is, voordat hulle hul in instellings soos Rusoord plaas. Dit vereis meer personeel om sorg te kan verskaf.”
Mnr. Gerhard Kühn, bestuurder van die Rusoord-ouetehuis op Vryburg, het gesê dat voedselinflasie van tot 17% hulle genoodsaak het om hul tariewe te verhoog en dat hulle nie kan bekostig om personeel se salarisse aan te pas nie. “Een van die gevolge van dié verhoging is dat ons vyf inwoners verloor het.”
Die volgende Grip4Charity word op 17 Oktober aangebied.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.