
Luidens ’n verklaring het NWK vroeër vandeesweek 21 matrikulante van die distrik Ditsobotla tydens ’n spoggerige geleentheid by die Hoërskool Lichtenburg vereer.
NWK het skootrekenaars ter waarde van sowat R230 000 aan dié matrikulante oorgehandig. Die landboumaatskappy borg dié geleentheid, wat deur die departement van onderwys in Noordwes aangebied word, al sedert die 2013-’2014-boekjaar. Altesaam 187 skootrekenaars ter waarde van meer as R1,7 miljoen is al geskenk.
Mnr. Benedict Modise, direkteur van ekonomiese ontwikkeling by NWK, het die matrikulante gelukgewens met hul prestasies. Hy het hulle ook lof toegeswaai vir hul deursettingsvermoë met al die probleme wat hulle te bowe moes kom om hul hoërskoolloopbaan te voltooi.
“Ons by NWK is regtig verheug oor wat julle vermag het en sien met groot afwagting uit na hoe julle selfs moeiliker kwessies in die toekoms gaan aanpak,” het Modise gesê.
“Laat ons ook nie die ontbinding van die munisipale raad en ’n gebrek aan water en slegte paaie vergeet nie. Soms moet jy laer platgeslaan word as wat jy ooit was, om hoër te herrys as wat jy ooit was,” het Modise gesê.
Van hierdie matrikulante vorm deel van die Ikateleng-projek, ’n opvoedkundige inisiatief wat bedryf word deur die Noordwes-Universiteit en geborg word deur NWK. Dié projek bestaan reeds 33 jaar en bemagtig leerlinge in hul tersiêre onderrig. Die Ikateleng-projek is in 1998 op die Vaaldriehoek-kampus van die voormalige Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (nou NWU) begin. Vandag is dit een van die omvattendste bykomende onderrigprogramme vir gr. 12-leerlinge in Suid-Afrika. Dit bied klasse in wiskunde, fisiese wetenskappe, rekeningkunde, ekonomie en Engels aan.
Me. Neontle Menoe, wat by hierdie projek baat gevind het, is van die Hoërskool Bethel en het onderskeidings in Afrikaans en rekeningkunde behaal. Sy sê dié projek het veral haar begrip en kennis van fisiese wetenskappe verbreed.
Nog ’n skolier, me. Keamogetswe Pelele, van JM Lekgetha Commercial School het onderskeidings in sakestudie, Tswana en lewensoriëntering behaal. “Dit was nie maklik nie. Ek is baie bly. Ek is trots op myself omdat ek hard gewerk en nie tou opgegooi het nie. Dit gaan my baie in my studie help.”
Modise het matrikulante daaraan herinner dat NWK volhoubare loopbaangeleenthede bied en hulle aangemoedig om die maatskappy se sosialemediaplatforms te besoek vir vakante poste. “Moenie van ons vergeet nie. Dit sal fantasties wees om ons eie jong mense te sien werk vir ’n maatskappy wat jul visie ondersteun het toe julle nog op skool was.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.