
Vanaf 1 Maart is die minimum loon vir plaaswerkers dieselfde as die nasionale minimum loon van R21,69 per uur. Me. Heloïse Denner, VF Plus-LP, het ’n debat in die parlement aangevra oor onder meer die styging in die minimum loon.
Nxesi het gesê die opposisie se redenasie is dat enige loon beter is as geen loon nie. “Ek wil dit benadruk: In absolute syfers is die styging maar R3 per uur.”
Volgens hom konsentreer die DA en die VF Plus se redenasie op winste van diegene wat die werkers uitbuit.
Hy het gesê dat ’n “skamele styging” van R3 per uur sal nie enigeen bankrot laat nie. Die Wet op die Nasionale Minimum Loon (Wet 9 van 2018) maak boonop voorsiening maak vir kwytskelding vir diegene wat nie die loon kan bekostig nie.
Die departement het reeds tien kwytskeldingsaansoeke ontvang waarvan agt reeds toegestaan is en twee nog nagegaan word.
Die mimimum loon vir huiswerkers is R19,09 per uur. Nxesi het aangedui dat hierdie loon in 2022 gelykstaande aan die nasionale minimum loon gebring sal word.
Dit is bekend dat huiswerkers en sekuriteitswagte op plase ook as plaaswerkers geag word en dus nou reeds die volle R21,69 per uur betaal moet word.
Boere sukkel
Me. Tammy Breedt, die VF Plus se hoofwoordvoerder oor landbou, het gesê dat Nxesi en die ANC-regering nie verstaan dat die vraag nie is of boere die verhoging in minimum loon wil betaal nie, maar of hulle dit kan bekostig. Die landbousektor is die enigste sektor wat tydens die pandemie gegroei het en dit is voor die hand liggend waarom dit so is. Dit is egter nie ’n werklike maatstaf vir die bekostigbaarheid van ’n buitensporige verhoging in die minimum loon in die landbousektor nie.
Sy het gesê dat nagenoeg die helfte van die boere in die land se jaarlikse omset, nie hul wins nie, is minder as R1 miljoen. Anders as ministers wie se jaarlikse inkomste meer as twee keer soveel is, moet hulle nog sowat 30 plaaswerkers onderhou en nou moet hulle ’n bykomende 16%-verhoging in lone uit daardie geld betaal.
Maar die prentjie word meer terneerdrukkend. Suid-Afrika is 69ste van die 113 lande rakende voedselsekerheid. “Maar ons gaan voort om ons produseerders onder die mees onredelike wetgewing te begrawe. Hierdie posisie is nie goed nie en sal erger word as ons nie ons landbousektor beskerm nie.”
Sy het bygevoeg dat volgehoue verhogings in die minimum loon sal beteken dat boere gedwing sal word om te meganiseer. En as hulle dit nie kan doen nie, sal hulle ophou boer. Veral die kleiner boere wat ’n jaarlikse omset van minder as R300 000 het, loop dié risiko.
Mnr. Michael Cardo, DA-LP, het gesê die styging in die minimum loon sal lei tot ’n toename in meganisasie in die landbousektor, wat beteken werksverliese sal voorkom.
“Die DA ondersteun volhoubare loonstygings in die landbousektor en huiswerkerdienste, maar ons glo nie dat verhogings deur wetgewing afgedwing moet word nie. Verhogings moet bepaal word deur onderhandelinge tussen werkgewers en werknemers.”