
Twee Nylkrokodille is al vanjaar in die Palmietrivier, wat ’n vertakking van die Klein-Brakrivier naby George in die Suid-Kaap is, van kant gemaak.
Die eerste een is in Augustus geskiet. Mnr. Dawie van der Merwe, ’n boer en lid van die Suid-Kaapse Jagters- en Bewaringsvereniging, het Donderdag (25 Oktober 2012) die tweede een bokveld toe gestuur.
Die eerste van dié krokodille is in Julie in die rivier opgemerk, en die vereniging het, luidens ’n berig in Die Burger, toe ’n permit bekom om die reptiele van kant te kan maak. Intussen is ten minste ses krokodille in die rivier opgemerk.
Krokodilplaas
Mnr. Neels Meyer, voorsitter van die vereniging, sê die krokodille is na verwagting afkomstig van ’n krokodilplaas in die omgewing wat gesluit het. Pogings deur Kaapse Natuurbewaring om die krokodille in hokke te vang, het glo misluk.
Meyer sê hulle is bewus van al die krokodille en dat geen rede tot kommer onder inwoners van die omgewing of voornemende vakansiegangers hoef te bestaan nie. “Hulle is maar kleintjies . . . hulle is tussen een en twee jaar oud en hulle is gebiedsgebonde. Hulle is bang vir mense en probeer dadelik wegkom as hulle iemand gewaar.”
Die reptiele kom sowat 15km van die onderpunt van die Klein-Brakrivier voor, en Meyer sê die gebied word gereeld gefynkam om die krokodille op te spoor. Die Mosselbaai-munisipaliteit het ook onlangs pamflette uitgereik om mense teen die krokodille te waarsku. Enigiemand wat een van die krokodille gewaar, word gevra om die vereniging by 082 824 8603 te bel.
Bron: Die Burger