
Dit blyk dat baie van die geld wat verligting aan die droogtenood van boer en dier moes bring, eerder in ’n verrykingskema vir diensverskaffers ontaard het.
Die Regering kon nog nie ’n presiese uiteensetting gee van die beweerde R2,5 miljard, wat vir droogtehulp bewillig is nie. Pres. Jacob Zuma het tydens sy staatsrede aangekondig dat R2,5 miljard bewillig is vir droogtehulp. Maar die hulp wat boere ontvang het, kom glo nie na aan die bedrag nie.
'n Sterk vermoede van bedrog en korrupsie by die aanstel en dienste gelewer deur diensverskaffers wat droogtehulp aan boere moes verleen, het Agri SA nou genoop om die Openbare Beskermer en die ouditeur-generaal (OG) te vra om ondersoek in te stel.
Aikona vir koeponstelsel
Landbouweekblad het vasgestel dat die Nasionale Departement van Landbou, Bosbou en Visserye nie toestemming wou gee om ’n koeponstelsel in te stel as maatreël om te verseker dat die bewilligde geld doeltreffend bestee word nie.
In die Noord-Kaap is droogtekorrels vir vee verruil met goedkoper afrondkorrels. Altesaam 73 000 sakke afrondkorrels is gelewer met ’n “wins” van nagenoeg R7 miljoen wat ’n diensverskaffer hiermee kon maak.
Verder is vasgestel dat die Regering glo sowat R4 miljoen aan ’n diensverskaffer van Noordwes betaal het vir die vervoer van 800 ton ruvoer wat boere van Standerton en Ermelo aan boere in die Hantam- en Namakwa-distrik geskenk het.
Omri van Zyl skryf aan OB en OG
Mnr. Omri van Zyl, uitvoerende direkteur van Agri SA, sê die organisasie het reeds besluit om ’n skrywe te rig aan beide die Openbare Beskermer en die OG om die droogtehulp te ondersoek.
“Die landbou wil weet wat van die geld geword het. Die hulp het ook baie laat gekom. Dit situasie is baie sleg hanteer.”
Van Zyl sê daar kan nie toegelaat word dat vrae rondom die besteding van die droogtehulp onbeantwoord bly nie. Pres. Zuma en die ministeriële komitee wat belas is met die droogte het aangedui dat die R2,5 miljard bewillig is vir veevoer, water, infrastruktuur, boorgate en ander ingrypings.
Boor van boorgate
“Wat het die sink van duur boorgate te doen met werklike droogtehulp aan die boere?” vra Van Zyl.
Agri SA sê hy is nie gevra om as diensverskaffer op te tree nie, hoewel hy met mnr. Senzeni Zokwana, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye en mnr. Mike Mlengana, direkteur-generaal van die departement, daaroor gepraat het.
Die landbou-unie het ook ses werksessies gehad rakende die droogte en die hulp wat nodig was, en waar die departement en selfs ramphulpbestuur teenwoordig was.