Entstowwe wat deur Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP)vervaardig word, is weer in die kollig ná inligting oor verlede jaar se bruselose-uitbreking onder beeste aan die lig gekom het, sê die Demokratiese Alliansie (DA).
Luidens ’n mediaverklaring laat die getalle wat onlangs in die Parlement bekend gemaak is, vrae ontstaan oor hoe doeltreffend die OBP-S19-entstof vir dié siekte is.
Me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, het in antwoord op vrae van die party in die Parlement aangedui dat 298 uitbrekings van dié siekte verlede jaar aangeteken is. Altesame 271 van dié uitbrekings is van vorige jare oorgedra.
Kuddes wat positief toets vir dié siekte, word onder kwarantyn geplaas tot die besmetting opgeklaar het. Me. Annette Steyn, verteenwoordiger vir die party, sê die land se vleisbedryf kan nié sulke uitbrekings bekostig nie, veral aangesien die uitvoerverbod weens bek-en-klouseer die landbou sowat R4 miljard per jaar laat inboet.
Helfte van ‘n kudde
Volgens Steyn het een boer, wat gereeld sy diere teen dié siekte laat inent, aangedui dat 50% van sy kudde verlede jaar die siekte onder lede gehad het.
“Ek het verlede jaar die skok van my lewe gekry toe sowat 50% van my kudde positief getoets het vir bruselose. Alle verse word op die ouderdom van sewe maande met OBP-S19 ingeënt, en ’n maand later weer.
“Die ander groot skok was toe ek daarop aangedring het dat die bulle ook getoets word, en van my geleerde vriende in die veeartsbedryf gesê het dit was nie nodig nie. Maar drie bulle het positief getoets!” lui die boer se stelling in die verklaring.
Steyn sê sedert sy die eerste vrae oor die OBP se entstowwe aan Joemat-Pettersson gerig het, het sy nog geen terugvoering ontvang nie. Sy is wil haar nou na die voorsitter van die portefeulje komitee vir landbou wend om te vra dat die minister voor die komitee moet verskyn en ’n deeglike plan voorlê om die land se dieregesondheid ten volle te herstel.
Die DA het reeds die Nasionale Verbruikerskommissie gevra om ondersoek in te stel na die werking van die OBP se entstowwe vir slenkdalkoors en Afrika-perdesiekte.
25 Mei 2012