
Ál die entstowwe wat dr. Steven Cornelius, uitvoerende hoof van Onderstepoort Biologiese Produkte as beskikbaar gelys het, is deur die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye bevestig.
“Tot ons verbasing was ál die belangrike entstowwe daar,” het dr. Mike Modisane, hoofdirekteur van diereproduksie en -gesondheid van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, gesê.
Die Brucella-19-entstof, knopvelsiekte, en selfs bloutong wat nie beskikbaar was vir die afgelope jaar of so nie, en die een vir slenkdalkoors is beskikbaar, het Modisane bevestig.
Sal nie leuens duld nie
Mnr. Mike Mlengana, direkteur-generaal van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, het verlede week dit duidelik aan die Parlement se portefeuljekomitee wat met landbousake belas is, gestel dat hy nie leuens of agteruitgang in sy departement sal duld nie. Hy het gesê om te verseker dat Cornelius dié keer die waarheid praat, hy self sy span sal stuur om te kyk of elkeen van die entstowwe wel beskikbaar is soos OBP beweer.
Dit kom nadat verskeie klagtes oor etlike maande die departement bereik het oor ’n tekort of geen beskikbaarheid van entstowwe wanneer hulle benodig word. Dit terwyl die entiteit die beskikbaarheid daarvan bevestig.
Iemand kan alles koop
Die span van die departement het met sy besoek aan OBP ook probeer vasstel wat die probleme is wat met die beskikbaarheid van die entstowwe ervaar
“Hy het gesê dis omdat hulle nie beheer het wie koop die entstowwe nie en dat selfs iemand van Namibië byvoorbeeld al die entstowwe kan koop wat meebring dat niks oorbly nie.”
’n Onverwagse pluimpie vir OBP is dat Europa wat tans erge knopvelsiekte ervaar, slegs OPB se entstowwe gebruik.