Die raad van Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) mag dissiplinêre stappe neem teen dr. Andile Dyasi, uitvoerende hoof.
Dít volg nadat die Arbeidshof in Johannesburg Dyasi se aansoek om ‘n interdik teen dié beoogde stappe met koste afgewys het. Luidens ‘n verklaring van Solidariteit het die hof Dyasi ook beveel om ‘n dissiplinêre verhoor, geskeduleer vir 13 en 17 September, by te woon.
“Die Arbeidshof se beslissing beteken dat die gesag om Dyasi dissiplinêr te vervolg nié by Minister Joemat-Pettersson berus soos sy en Dyasi aangevoer het nie, maar by die OBP-raad. Dit was vir niemand ? verrassing nie, aangesien dieselfde proses destyds ook met die skorsing van mnr. Jacob Maroga by Eskom gevolg is, waarna bevind is dat die raad binne sy regte opgetree het,” sê dr. Dirk Hermann, adjunk-uitvoerende hoof van die vakbond.
Die agtergrond
Die raad het Dyasi vroeg in April geskors hangende ? ondersoek rakende verskeie klagtes, waaronder beweerde bedrog, wangedrag, selfverryking, diskriminasie teen vakbonde en oneerlikheid.
“Sedertdien het Dyasi alles in sy vermoë gedoen om die dissiplinêre optrede te ontduik. Hy het geweier om die eerste tugverhoor, wat vir 27 Mei geskeduleer was, by te woon en vir die tweede een, wat vir 23 en 24 Augustus geskeduleer was, het hy ? doktersbrief aangebied as verskoning,” vertel Hermann.
Volgens Hermann moet die raad die saak nou so vinnig moontlik afhandel sodat werknemers hul werk sonder veronregting of vrees kan voortsit.
13 September 2010