
Ten spyte van vele hindernisse, wat insluit die covid-19-pandemie, en produksie- en bestuursprobleme, het Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) dit reggekry om ’n klein wins vir die 2020-’21-boekjaar aan te teken.
Dit is bekend dat OBP die afgelope paar jaar groot produksieprobleme met die vervaardiging van entstowwe, die verspreiding van produkte en ’n verlies aan kenners ondervind.
Sy omset het R238 miljoen beloop. Dit het met 40% teenoor sy begroting toegeneem en verteenwoordig ’n verhoging van 34% teenoor die vorige boekjaar. ’n Verdere analise wys uit dat 53% van die totale omset deur plaaslike verkope gelewer is.
Die nuwe entstof vir slenkdalkoors (RVF, 50ml) en die een vir bek-en-klouseer was die topverkopers op die plaaslike en die uitvoermark in die boekjaar.
Die omset van R238 miljoen is R68 miljoen meer as die teiken van R170 miljoen. Luidens die jaarverslag is dit die eerste keer dat die OBP verkope van R200 miljoen aanteken en is dit ’n prestasie in die huidige ekonomiese omstandighede. Sy wins was R1,5 miljoen.
Die instelling se finansiële posisie het oor die afgelope vyf jaar hoofsaaklik verbeter vanweë die kontantinspuiting vir die herkapitaliseringsprogram vir sy aanleg. Die OBP het ’n ongekwalifiseerde ouditmening van die ouditeur-generaal gekry.
Probleme
Me. Rene Kenosi, voorsitter van OBP se direksie, sê die beperkinge weens die covid-19-inperking saam met die drie weke lange staking van OBP-personeel wat op 19 Oktober 2020 begin het, het ’n impak op die bedrywighede van die instelling vir die boekjaar gehad.
Produksieprobleme weens verouderde toerusting en tekorte aan grondstowwe weens die pandemie het die druk op beskikbaarheid van produkte vererger. Boonop het die maatskappy se sekretaresse in die derde kwartaal van 2021 bedank. Dr. Baptiste Dungu, uitvoerende hoof, is ook einde April voorkomend geskors hangende ’n ondersoek na beweringe wat handel oor ’n “werwings- of indiensnemingskontrak”.
Sy sê die huidige direksie wat op 1 November 2020 aangestel is, moes verskeie organisatoriese risiko’s hanteer, wat insluit die toepassing van korrektiewe aksie wat ondersoekverslae aanbeveel het, asook die instel van ondersoeke rakende verskeie bewerings. Regstellende optrede sal in die 2021-’22-boekjaar volg.