
Die verwagte kommersiële mielie-oes staan nou op 10,979 miljoen ton nadat dit met 46 200 ton (0,42%) opwaarts aangepas is. Die geskatte oes is steeds 12% kleiner as die 2018-oes van 12,510 miljoen ton. Die belangrikste mielieproduserende gebiede – die Vrystaat, Mpumalanga en Noordwes – gaan na verwagting 80% van die oes produseer.Die skatting vir witmielies is 5, 572 miljoen ton, wat 48 200 meer is as verlede maand se skatting. Geelmielies is 38 000 ton minder en staan nou op 5,407 miljoen ton.
Wat die nie-kommersiële sektor betref, word steeds geraam dat 296 000 ha met mielies beplant is, wat sowat 5,98% minder as in die vorige produksiejaar is. Dié verwagte oes word op 549 180 ton geraam, waarvan sowat 43% in die Oos-Kaap en 27% in KwaZulu-Natal verbou is.
Wintergewasse
Wat wintergewasse vir die 2019-produksieseisoen betref, meen die NOK in sy voorlopige oppervlakskatting dat 536 950 ha koring aangeplant is, wat 33 600 (6,68%) meer is as verlede jaar se 503 350 ha. Die voorlopige skatting is gegrond op die resultate van ’n nie-ewekansige opname deur die direktoraat van statistiek en ekonomiese analise en weerspieël die situasie teen middel Julie.
Die beraamde oppervlakte beplant in die Wes-Kaap is 324 000 ha, wat 6 000 ha meer is as die vorige seisoen. Vir die Vrystaat is die aanplantings 125 000 ha, wat 25 000 ha meer is en in die Noord-Kaap is 36 000 ha beplant, wat 2 000 ha minder as die vorige seisoen is.
Die voorlopige oppervlakskatting vir moutgars is 120 500 ha, wat 1,26% of 1 500 ha meer is as verlede jaar. Die oppervlakte onder kanola is 74 000 ha, wat 3 000 ha minder is as verlede jaar. Die komitee het vir die eerste keer ’n skatting vir hawer gegee, met sowat 22 000 ha wat na verwagting aangeplant is.
Wat die oesskatting vir ander somergesaaides betref, is die skatting vir sojabone 1,170 miljoen ton, wat 46 050 ton (3,79%) minder is as verlede jaar. Die skatting vir sonneblomsaad het toegeneem met 44 500 ton tot 655 649 ton. Die skatting vir grondbone en sorgum het afgeneem. Die grondboonoes is na verwagting 1 700 ton kleiner en word op 18 880 ton geskat. Die sorghumoes gaan na verwagting 7 500 ton kleiner wees en word op 153 950 ton geskat. Droëbone staan nou op 66 355 ton, wat ook effens laer is.
Pryse
Mnr. Wandile Sihlobo, ekonoom van die landbousakekamer Agbiz, meen die skatting van die someroeste is nou al ’n goeie aanduiding van wat die werklike mielie- en oliesade-oeste sal wees. “Daar is verwag dat die skatting vir witmielies laer as verlede maand sou wees weens verslae van swak opbrengste in Noordwes, maar Gauteng het tot die redding gekom met ’n hoër skatting as verlede maand.”
Hy glo steeds dat Suid-Afrika vanjaar ’n netto uitvoerder sal wees al is die mielie-oes 12% laer as verlede jaar. Dit is weens die oordragvoorraad van 2,8 miljoen ton in Mei. Uitvoer sal waarskynlik na lande in Suider-Afrika wees. Sihlobo meen ook dat die skatting geen invloed op pryse sal hê nie.
Oor die wintergewasse sê hy as ’n mens ’n gemiddelde opbrengs van 3,45 ton/ha vir die koringaanplantings op 536 950 ha verwag, kan dit ’n oes van 1,85 miljoen ton lewer. Dit sal beteken dat 1,4 miljoen ton koring ingevoer sal moet word.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.