
Mnr. Willem de Beer (45) van Beerseun-boerdery op Ofcalaco naby Tzaneen is op 17 Maart 2023 oorlede aan kanker.
“Willem los ’n groot leemte in die landbougemeenskap,” sê sy broer, mnr. Kobus de Beer. “Hy was ’n uitmuntende boer in sy gemeenskap en het ’n rol in alle fasette van die landbou in sy omgewing gespeel. Hy het uitgereik na ander en baie geleenthede vir medeboere en ander mense geskep waar hy gewerk het.”
Willem sal onthou word vir sy ambisie wat gestalte gevind het in die suksesvolle boerderybesigheid wat hy en sy broer Kobus in ’n redelik kort tydperk tot stand gebring het.
Op Beerseun-boerdery se Facebookblad het sy vrou, Amanda, hierdie boodskap geskryf: “Dierbaar, sorgsaam en opreg sal hy in ons harte voortleef. Vir hom was vuur die simbool van vernuwing en soos Moses van ouds is hy teruggeroep vir sy nuwe lewe. Ons eer jou Willem vir die warm vuur wat jy in ons almal aangesteek het en sal jou in ons harte koester bewaar.”
Willem word oorleef deur sy ma, Lutje, broer, Kobus, vrou, Amanda, en dogter, Marli.
’n Roudiens ter herinnering van Willem word op Vrydag 24 Maart 2023 gehou in die NG kerk Wolkberg op Tzaneen.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.