Die internasionale olieprys kan teen die einde van die jaar die $125-merk (sowat R842) per vat haal, voorspel ’n ekonoom.
Mnr. Dawie Roodt, ’n senior ekonoom van die Efficient-groep, sê die jongste styging in brandstofpryse gaan nie die laaste een vanjaar wees nie.
Die Departement van Energie het Vrydag (29 Julie 2011) aangekondig dat die prys van alle grade petrol Woensdag (3 Augustus 2011) met 17c per liter styg, terwyl grade diesel 15c per liter duurder sal wees.
Redes
Roodt sê die prysstygings in Augustus kan toegeskryf word aan die hoë internasionale olieprys wat in Julie voorgekom het.
“Wat die olieprys betref, moes die styging 20c per liter vir petrol gewees het. Die rand het egter relatief goed vertoon en het dié prys met 3c afgedruk”.
“Wat die oliepryse vir die res van die jaar betref, verwag ek dat ons binnekort die $120-merk per vat gaan haal, en selfs teen ’n prys hoër as $125 per vat sal kan daal,” aldus Roodt.
Daar is twee redes vir dié voorspelling. Roodt sê die swakker dollar en ’n sterk vraag na olie in China en Indië kan tot so ’n styging lei.
1 Augustus 2011