Omgewingsbelasting word dalk binnekort ingestel om byvoorbeeld dreinering van suur mynwater in die toekoms te voorkom. Luidens ‘n berig op Allafrica.com is dit deel van die Regering se reaksie op ‘n verslag wat saamgestel is oor suur mynwater wat tans die westelike, oostelike en sentrale mynkomme syfer en op die oppervlak uitspoel.
Die Kabinet het die afgelope week aanbevelings van ‘n taakspan, wat aangestel is om die situasie te ondersoek, bespreek. Volgens me. Edna Molewa, Minister van Waterwese en Omgewingsake, is die verslag en moontlike oplossings iets wat die staat ernstig oorweeg.
“Meganismes om seker te maak dat die wet gehoorsaam word, moet in plek wees. Ons het almal ‘n verantwoordelikheid om te verseker dat ons die omgewing beskerm, so dit is ‘n bestaande bespreking. Die Departement van Finansies het ‘n dokument in sirkulasie oor omgewingsbelasting en ons sal sien wat gebeur in die toekoms,” aldus Molewa.
Vervolging
Volgens die berig het Molewa gesê dié myngroepe wat daaraan skuldig bevind word dat hulle die omgewing besoedel het, sal vervolg word. Die miljarde rande wat dit gaan kos om die probleem aan te spreek, sal van hulle verhaal word. Die departement sal Afdeling 19 van die Waterdienstewet gebruik om die mynreuse te dwing om boetes te betaal.
“Daar is al baie kommentaar gelewer oor hoe die Regering hierdie situasie hanteer en ons wil almal verseker dat ons dit baie ernstig opneem. Die Regering is net so bekommerd oor die situasie, derhalwe word dit voor die Kabinet gebring en Suid-Afrikaners sal dié week weet wat gedoen gaan word,” aldus Molewa.
Bron: All Africa
18 Februarie 2011