
Omnia gaan meer as R1 miljard aan sy aandeelhouers uitkeer. Dié gediversifiseerde chemiese maatskappy se winsgewendheid en kontantposisie het sedert 2018 aansienlik verbeter en hy begin nou weer kyk na strategiese verkrygings in groeisektore soos biologiese landbouprodukte.
Omnia Holdings, wat produkte en dienste aan die mynbou-, landbou- en chemiese sektor verskaf, het sy kernskuld gedelg en die boekjaar afgesluit met ’n kontantposisie van R1,8 miljard.
Mnr. Stephan Serfontein, finansiële hoof van Omnia Holdings, skryf die sterk kontantposisie toe aan die suksesvolle uitvoering van strategie, die aktiewe bestuur van die vervaardigingsbedrywighede, die optimalisering van voorsieningskettings en die verantwoordelike kapitaaltoewysing aan die groep se ondernemings. “Dis ’n veerkragtige prestasie gelewer in ’n moeilike en dinamiese omgewing, wat die pandemie se uitwerking en elektrisiteitsonderbrekings ingesluit het.”
Hy sê ’n groot gedeelte van die verbeterde kontantposisie kom uit kontant gegenereer uit die ondernemings se bedrywighede en die Oro Agri-transaksie wat in Januarie afgehandel is. Die maatskappy het verlede Oktober aangekondig dat sy filiaal Oro Agri vir $146,9 miljoen aan die Europese landboumaatskappy Rovensa verkoop is. “Dit tesame met kontant gelewer uit bedrywighede het ons aangewend om die skuld te delg en die boekjaar op ’n positiewe kontantposissie afgesluit.”
Die landbou-afdeling, bestaande uit Suid-Afrikaanse en internasionale bedrywighede, het sy omset met 3% tot R8,8 miljard verhoog, terwyl bedryfswins skerp met 62% tot R995 miljoen gestyg het. As die impak van Zimbabwe (waar hiperinflasie syfers skeeftrek) en die beëindigde Oro Agri-bedrywighede buite rekening gelaat word, het die omset met 8% tot R7,8 miljard gestyg. Die afdeling het ’n verhoogde aanvraag danksy gunstige landboutoestande beleef, maar gedissiplineerde kostebeheer en verbeterde bedryfsprestasie in Suid-Afrika het ook tot die prestasie bygedra, sê Serfontein. “Aan die internasionale kant het ons biostimulante-bedrywighede in Australië, wat hoë winsmarges realiseer, hoër verkope in winsgewende markte soos Brasilië gehad.”
Biostimulante
Serfontein sê die mark vir biostimulante groei nou vinnig. “Ons sien dit in Suid-Afrika, maar ook internasionaal en dis ’n baie groot fokuspunt vir ons. Daar is groeigeleenthede in Brasilië, Kenia, Suid-Afrika, Europa en Amerika, wat groot markte is.”
Omnia beoog om sy teenwoordigheid te vergroot deur samewerkingsooreenkomste te sluit wat eksklusiewe verspreidingsopsies beding.
Omnia se mynbou-afdeling wat onder meer plofstof aan myne verskaf, se omset was stabiel op R5,2 miljard. Serfontein sê die maatskappy het ’n groot nuwe mynboukliënt verkry en die voordeel hiervan sal in die nuwe boekjaar gesien word. Die omset in sy chemiese afdeling, met Protea Chemicals en Umongo Petroleum in sy stal, het met 14% tot R4,3 miljard gedaal. Bedryfswins het egter met 21% tot R209 miljoen gestyg.
Die huidige goeie landboutoestande in Suider-Afrika beteken goeie vooruitsigte vir die volgende boekjaar. Dit, tesame met die goeie pryse vir landbougewasse, kan Omnia Holdings se landboubedrywighede bevoordeel. Weens die huidige onsekerheid op die mark gaan die maatskappy op kort termyn steeds ’n konserwatiewe balansstaat handhaaf. “Ons gaan nie kapitaal van ons bedrywighede terughou nie, maar ons gaan seker maak dat ons ’n voldoende opbrengs daarop kry.”
Omnia se syfers in ’n neutedop
• Bedryfswins styg met 62% tot R1,2 miljard (2020: R744 miljoen)
• Wesensverdienste per aandeel styg met 154% tot 391c (2020: 154c)
• Netto kontant styg met R3,2 miljard tot R1,8 miljard (2020: netto skuld R1,9 miljard)