
Omnia, wat benewens kunsmis en
biostimulante vir die landboumark ook plofstof vervaardig en gespesialiseerde
chemikalieë verskaf, het in die halfjaar tot einde September sy inkomste uit
voortgesette bedrywighede met 19% tot R11,6 miljard verhoog. Sy Zimbabwiese
bedrywighede is uitgesluit uit dié syfer.
Die groep het die afgelope jare baie hard daaraan gewerk om ’n veerkragtige sakemodel te ontwikkel. Dit hou hom mededingend wanneer markte vinnig verander.
Moeilike marktoestande, onder meer beurtkrag, maatskaplik-politieke onrus en verswakkende infrastruktuur het die maatskappy die afgelope jaar in die gesig gestaar het, sê mnr. Stephan Serfontein, finansiële direkteur. “Ons moes seker maak ons kon deurlopend produkte aan ons kliënte verskaf en ons voorsieningsketting optimaliseer.”
Die maatskappy verlaag deurlopend sy impak op die omgewing. Sedert Augustus 2022 word water wat vir verkoeling gebruik is, met omgekeerde osmose gesuiwer om drinkbare water te produseer wat hergebruik kan word. Sodoende word ongeveer 180 megaliter drinkbare water per jaar bespaar. Sasolburg se sonkragaanleg, wat in Oktober 2022 in gebruik geneem is, kan ook 5 MW se elektrisiteit opwek, wat in sowat 25% van sy eie behoeftes kan voorsien, met die potensiaal om in die toekoms meer krag op te wek.
Landbou-afdeling se inkomste styg
Die landbou-afdeling se netto inkomste het met 17% tot R5,8 miljard gestyg (Zimbabwe uitgesluit), terwyl bedryfswins met 34% tot R658 miljoen gestyg het. Serfontein sê die maatskappy se AgriBio-besigheid groei sterk en dra saam met hoër hulpbronpryse by tot die styging. Verkoopsvolumes het gedaal vergeleke met die ooreenstemmende tyd verlede jaar, hoofsaaklik omdat Suid-Afrikaanse boere later in die seisoen insetprodukte gekoop het in afwagting op swakker kommoditeitspryse en gure weer wat oestyd vertraag het.
Oor kunsmispryse sê Serfontein hulpbronpryse het oor die afgelope kwartaal bietjie verswak ná die afgelope jaar se skerp stygings, maar dis steeds aansienlik hoër as die gemiddelde vir die afgelope vyf tot tien jaar. “Wat ons vorentoe sien, is dat pryse steeds op ’n hoër vlak gaan wees weens faktore buite ons beheer, soos onderbrekings in die voorsieningskettings.”
Hy sê die vooruitsigte vir die komende plantseisoen in Suider-Afrika lyk gunstig, terwyl Omnia se internasionale mark vir biostimulante stygende volumes in Brasilië en Suider-Afrika behaal.
Mynbou presteer ondanks druk
’n Ondersteunende omgewing vir kommoditeitspryse het die mynbou-afdeling gehelp om sy netto inkomste met 32% tot R4,1 miljard op te stoot, en sy bedryfswins met 44% tot R359 miljoen. Dit is volgens die groep se verklaring gedeeltelik teengewerk deurdat insetkoste met meer as gemiddelde inflasie toegeneem het, asook laer volumes weens onder meer slegte weersomstandighede, arbeidsoptredes, regulatoriese kwessies en beurtkrag.
Verskeie nuwe mynkontrakte is in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap gesluit en internasionaal is daar tekens dat maatskappye meer bestee aan eksplorasie in groeimarkte soos Noord-Amerika.
Chemikalieë
Dié afdeling se netto inkomste het stabiel gebly op R1,4 miljard. Bedryfswins het meer as verdubbel tot R104 miljoen en het baat gevind by ’n verbeterde mengsel van produkte oral in die besigheid.
Omnia het klem gelê op die ontwikkeling van ’n portefeulje van spesialiteits- en omgewingsvriendelike produkte om tradisionele chemiese prosesse aan te vul, lui die groep se verklaring.
“Op mediumtermyn bly die ontwikkeling van omgewingsvriendelike alternatiewe chemiese prosesse en tegnologieë oor alle sektore heen ’n belangrike strategiese fokusarea.”Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.