
Daarby sal die verwagte goeie reënval vir die somer ook die verkope van sy landbouprodukte ’n hupstoot gee.
Die verkoopprys van $165 miljoen (R2,68 miljard) is 127% meer as wat Omnia in 2018 vir Oro Agri, ’n internasionale vervaardiger van biologiese landboubeskermingsprodukte, betaal het. Die transaksie sal ook die Omnia-groep se skuldlas van sowat R1,88 miljard eensklaps kan uitwis. Dié skuldlas, wat Omnia die afgelope twee jaar hoofbrekens besorg het, is deels veroorsaak deur nuwe verkrygings en ’n groot belegging in ’n nitrofosfaataanleg in ’n moeilike landboujaar. Finansieringskoste het die hoogte in geskiet en die maatskappy moes ’n regte-uitgifte van R2 miljard in September 2019 doen.
Die transaksie om Oro Agri te verkoop, plaas Omnia op ’n goeie grondslag te midde van die onsekerheid wat die pandemie vanjaar vir groot korporatiewe maatskappye geskep het, sê mnr. Stephan Serfontein, finansiële direkteur van Omnia. “Dit maak ons balansstaat baie sterk en nou sit jy nie meer met ’n skuldlas nie, wat vir ons ’n groot voordeel is.” Die groep wil juis die geld gebruik om skuld terug te betaal en die maatskappy vir organiese groei te posisioneer.
Volgens mnr. Seelan Gobalsamy, uitvoerende hoof van Omnia, sal die maatskappy steeds baie konserwatief wees oor die geleenthede waaraan hy sy kapitaal gaan toewys.
Oor die verkoop van Oro Agri sê Gobalsamy die Omnia-direksie het ’n deeglike hersiening van Oro Agri gedoen en besluit om Rovensa se aanbod by sy aandeelhouers aan te beveel. “Ons glo Oro Agri se risikoprofiel, die aantreklike prys wat Rovensa aangebied het en die geleentheid om risiko uit ons kapitaalstruktuur te verwyder, het Oro Agri se potensiaal op lang termyn oorskadu.”
Boere-kliënte gaan steeds die Oro Agri-produkte in Suid-Afrika kry, dis net die aandeelhouer van die maatskappy wat verander, sê Serfontein. “Die verandering van die aandeelhouer gaan nie ons boere in Suid-Afrika raak nie.”
Hoewel sommige ontleders meen Omnia het die “juweel in sy kroon” verloor toe hy Rovensa se aanbod vir Oro Agri aanvaar het, wys Serfontein daarop dat Omnia steeds baie betrokke is in die mark vir biologiese stimulante, wat ’n groot deel van die groep se internasionale en plaaslike bedrywighede vorm. “Dis ’n vinnig groeiende mark en dis selfs groter as die mark vir biokontrole, waarin Oro Agri val.” Hy skryf die vinnige groei onder meer toe aan die verskil wat biostimulante maak om plante deur die moeilike klimaatstoestande te help en ook omdat boere al hoe meer vertroue daarin kry soos wat hulle opbrengs sien verbeter met die gebruik van die produkte.
Die maatskappy sien baie uit na die komende somerplantseisoen en verwag dat dit ’n goeie een sal wees. “Die pryse van mielies en sojabone is baie hoër as ’n jaar gelede, wat meer kontant in boere se sakke sal sit. Daarby was die afgelope oes goed en daar is vooruitsigte vir ’n nat seisoen. Ons almal weet as dit reën, dan plant die boere,” sê Serfontein. – VIDA BOOYSEN
Foto-onderskrifte
Mnr. Stephan Serfontein, Omnia Holdings se finansiële hoof
Omnia Holdings se nuwe nitrofosfaataanleg by Sasolburg.