
Omnia, ’n gediversifiseerde maatskappy met belange in die landbou-, mynbou- en chemiese sektor, het in Junie ’n ongevraagde aanbod vir Oro Agri gekry. Die maatskappy het toe gesê dié filiaal, wat hy in 2018 gekoop het, is nie ’n onderneming wat hy wou verkoop nie, maar dat hy wel die aanbod vir oorweging aan sy direksie voorlê.
Oro Agri ontwikkel en verkoop ’n reeks biologiese landbouprodukte soos biostimulante en oesbeskermingsprodukte en is in verskeie internasionale streke bedrywig. Volgens Omnia se jongste jaarresultate in Maart het Oro Agri ’n stewige bydrae van 35% tot die landbou-afdeling se bedryfswins gelewer. Sedert Omnia die verkryging in 2018 gedoen het, het die rand verswak en dié internasionale maatskappy dien as ’n goeie randverskanser vir die groep.
Aan die ander kant het dié verkryging in 2018, asook die verkryging van Umongo Petroleum en die oprigting van Omnia Holdings se nuwe nitrofosfaataanleg vir die maatskappy heelwat finansieringskoste meegebring. Dít alles, tesame met ongunstige marktoestande, het ’n groot skuldlas op die maatskappy geplaas.
Die maatskappy het ’n regte-uitgifte van R2 miljard in September 2019 voltooi en sy langtermynskuld is in Desember 2019 herstruktureer. As hy Oro Agri verkoop, sal die transaksie waarskynlik sy skuldlas verlig en selfs finansiering vir verdere verkrygings kan verskaf, sê mnr. Anthony Clark, ’n onafhanklike markontleder. “Die dilemma vir Omnia Holdings is of hy die juweel in sy vinnig groeiende landbouportefeulje nou moet verkoop en enige winste prysgee wat dit vorentoe in ’n groeiende mark met hoë winsmarges sou verskaf, of moet hy kies om nou sy skuld met een felle slag uit te wis en weer van voor af te begin spaar vir verkrygings vorentoe.”
Dit lyk asof die mark ’n kooptransaksie verwag. Omnia se aandeelprys het ná die aankondiging begin styg tot sy hoogste vlak in 52 weke, in afwagting op ’n aankondiging dat Oro Agri verkoop sou word.