Ná ‘n verlies van R99 miljoen in die eerste helfte van die vorige boekjaar, het Omnia se inkomste in die eerste ses maande van die afgelope boekjaar met 269% gestyg, sê mnr. Rod Humphris, die groep se besturende direkteur.
Luidens ‘n verklaring het die groep se wins vir die tydperk van April tot September vanjaar ná belasting afgetrek is, op R167 miljoen te staan gekom. Humphris sê die maatskappy se mynafdeling het voordeel getrek uit die sterk internasionale vraag na kommoditeite.
Aanvraag verskil
Volgens Humphris was die markte die afgelope jaar meer stabiel as in 2009, maar hy sê die aanvraag in die mark het verander. Die mark vir chemikalieë het strawwe handelstoestande ondervind met lae vlakke van aktiwiteit wat in die Suid-Afrikaanse mark voorgekom het.
Wat die mynwese aanbetref het die groep ‘n goeie jaar beleef met ‘n toename in die wêreldwye vraag na koolstof, ystererts, koper en platinum. “Toestande in die landbou was gemeng met ‘n swakker winterkoring-seisoen, en ‘n reuse mielie-oes en laer plaaslike mieliepryse wat voortduur,” sê Humphris.
Die volgende ses maande
Die groep verwag dat die sterk rand in die volgende ses maande van die boekjaar ‘n ongunstige uitwerking op bedryfsinkomste gaan hê, maar glo hulle sal voordeel trek uit finansiële kostes wat tans laer is. Volgens Omnia gaan die prestasie van sy landbouafdeling in die komende maande van kunsmisverkope in die somerplantseisoen afhang.
“Internasionale kunsmispryse het aansienlik verhoog soos wat aanvraag verhoog na aanleiding van ‘n opwaartse beweging in landbouprodukpryse. Ontwrigting word wel verwag weens die onttrekking van Yara uit Suid-Afrika en die Mededingingskommissie se voorstel dat Sasol van die kelinhandelmark moet onttrek, maar die uitwerking daarvan is moeilik om te voorspel,” meen Humphris.
8 Desember 2010