
Agri SA is die afgelope jaar hard aan die werk aan maniere om risiko’s te versag en praktiese oplossings te bied om boere deur die stormwaters van politieke inmenging, ’n gefragmenteerde waterbeleid en klimaatsverandering te stuur.
In dié verband, sê mnr. Omri van Zyl, uitvoerende direkteur van Agri SA, is ’n risiko-afdeling gestig saam met Senwes, en word beplan om ’n slim-ramphulpverleningsplan vir byvoorbeeld droogtetye in te stel. Die organisasie kyk ook na watter tipe vennootskappe hy kan sluit om dié risiko’s te hanteer.
Water en transformasie
“Die waterbeleid is ’n totale gemors. Die bestuursagentskappe in die opvangsgebiede werk nie behoorlik nie, die vasstelling van watertariewe is eensydig en mense kry geen dienste vir die tariewe wat hulle betaal nie.”
Van Zyl sê dit is ’n gesukkel om ’n nasionale waterstrategie te ontwikkel en Agri SA wil kyk hoe hy kan help om dit gevestig te kry. Daarby het daar omtrent niks gebeur rondom waterinfrastruktuur sedert 1994 nie. Agri SA het verskeie waterkenners gekry wat op die kongres aan ’n paneelbespreking daaroor sal deelneem.
Wat transformasie betref, is nog nooit ’n gekonsolideerde prentjie geskets van wat binne die onderskeie bedrywe en by korporatiewe lede gedoen word om transformasie te bevorder nie. “Elkeen doen sy eie ding sonder dat daar ’n geheelbeeld is. Agri SA wil wys wat binne die sektor gedoen word en die suksesverhale vertel,” sê hy.
LEES OOK: Watermeters: Verwarring oor nuwe reëls
Fonds vir regsgedinge
Agri SA beoog om die fonds vir regsgedinge reeds voor die kongres amptelik bekend te stel. Die organisasie wil R50 miljoen insamel met die oog op veral litigasie rondom grond en natuurlike hulpbronne.
Hy is reeds besig met ’n opname oor wie besit watter grond in Suid-Afrika en besonderhede daaroor sal op dié geleentheid bekend gemaak word. Die organisasie sal graag wil sien dat boere, die bedrywe en die hele waardeketting tot die fonds bydra.
“Om deesdae die grondwetlike beginsels rondom eienaarskap te beskerm moet ’n mens jou soms tot die howe wend, en dit kos ’n klomp geld om daardie sluise toe te hou.
Agri SA beoog hierdie onderneming nie net in belang van die landbou nie, maar die hele Suid-Afrika. As die landbou vou, vou die breër ekonomie ook. Agri SA wil daarom die hele burgerlike samelewing mobiliseer.”
LEES OOK: Agri SA wil aanslae op grond in hof beveg
Maatskappystruktuur
Op die tweede dag van die kongres word voorstelle vir ’n nuwe organisatoriese strategie bespreek, en hoe dit verwesenlik sal word. Die organisasie se grondwet sal gewysig moet word as Agri SA byvoorbeeld ’n maatskappy sonder winsoogmerk wil skep. Vier moontlike entiteite is ter sprake:
¦’n Maatskappy met winsbejag om projekte aan te dryf;
¦’n Maatskappy sonder winsoogmerk wat die rol van ’n bestuursmaatskappy vervul;
¦Agri SA wat as houermaatskappy optree; en
¦Die litigasiefonds, wat afsonderlik van die hooforganisasie bedryf word. ’n Direksie sal die organisasie bestuur.
Daar is hoofsaaklik vier redes vir die veranderinge:
¦Agri SA wil die organisasie meer vaartbelyn en relevant maak, want hy groei vinnig.
¦Agri SA het nege provinsiale strukture, 25 bedrywe en 15 korporatiewe lede wat betrokke is.
¦Agri SA wil beter dienste aan sy lede kan lewer en die sinergieë binne die waardeketting ontsluit.
¦Die boer kan nie meer alleen die stryd oor grond, water, ens. stry nie.
“Met ’n paar ander belanghebbendes binne die waardeketting het die maatskappy groter bedingingskrag, en dit maak ook beter finansiële sin. Beleidswerk kos geld – veral as ’n mens dit behoorlik wil doen,” sê hy. “Die veranderinge klink drastieser as wat dit is. Wat die funksionering van die organisasie betref, behou Agri SA sy sentrums van uitnemendheid van landelike ontwikkeling, natuurlike hulpbronne, arbeid, veiligheid en die kommersiële sentrum.”
LEES OOK: Agri SA dalk eersdaags maatskappy?
Bly lede-inspraak behoue?
Daar is steeds die drie kamers – provinsiaal, bedrywe en korporatiewe lede – wat die leiding neem, terwyl die sentrums van uitnemendheid vir die uitvoering verantwoordelik is. “Met ’n direksie sal daar selfs beter proporsionele verteenwoordiging wees. Dit is net ’n kleiner, doeltreffender opset wat altyd deur boere beheer sal word,” sê Van Zyl.
“Met ’n groot algemene raad neem dit dikwels te lank om besluite te neem en dit veroorsaak probleme met korporatiewe bestuursbeginsels. “Deesdae word wetgewing op 24 Desember deurgevoer en as ’n mens nie gou optree nie, is die geleentheid om dit te doen verby. Agri SA moet aanpas by die tye om relevant te bly en groter impak te maak in sy beleidsomgewing.”
Die voorstelle is al in verskeie provinsies en bedrywe bespreek en die reaksie by omtrent alle lede is baie gunstig. Boere is dinamiese mense wat dinge altyd beter wil doen.
Uitvoering of beleid?
Volgens Van Zyl is Agri SA se kernbesigheid om beleid te beïnvloed en dit sal altyd die belangrikste element bly, maar optrede is ook nodig. “As die organisasie met die droogte hom nét met beleid besig gehou het, sou 12 500 boere nie hulp ontvang het nie. ’n Mens moet sake kan deurvoer en in ’n sukkelende staaatsopset raak dit al hoe belangriker.
“Dieselfde beginsels geld water, skaliegas, paaie en verskeie ander kwessies. Maklik driekwart van beleidsbeïnvloeding is in elk geval regsverwante bedrywighede met toepassings op wetgewing, beleidsposisies, parlementêre optrede, verteenwoordiging op beleidsrade en dies meer.”
Van Zyl sê Agri SA stel kundiges aan wat weet wat hulle doen, maar die organisasie se werk strek wyer. “As ’n mens met ’n boer praat, kom jy agter hy het basiese probleme: Sy waterregte is ’n probleem, sy dieselrabat word nie betaal nie, sy paaie word nie onderhou nie, plaasveiligheid is ’n probleem – dis dinge waarvoor oplossings gevind moet word,” sê hy.
Sleutel-aanstellings
Agri SA het hom die mikpunt gestel om ’n kundige in elk van sy sentrums van uitnemendheid aan te stel sodat probleme opgelos kan word. Me. Jhani de Villiers, die hoof van die arbeid- en maatskaplike sentrum, is ’n kenner van arbeidsreg en was 12 jaar by Solidariteit betrokke.
Mnr. Janse Rabie, ’n omgewingsregprokureur, sien om na natuurlike hulpbronne en kyk na kwessies, soos water, mynbou, energie, skaliegas en rampbestuur. By landbou-ontwikkeling word me. Annelize Crosby, ’n prokureur en kenner van grondwetlike regte, bygestaan deur me. Yolise Mfaise, ook ’n regspesialis.
Mnr. Kobus Visser behartig steeds landelike veiligheid, en aan die kommersiële en handelskant is dr. Requier Wait, wat sy doktorsgraad in ekonomie het, en mnr. Hamlet Hlomendlini, met ’n meestersgraad in ekonomie. Mnr. Pietman Roos kyk na waardekettingontwikkeling. Hy skakel met die korporatiewe lede en bedrywe om te sorg dat dienste aan hulle gelewer word. Van Zyl sê dit is ’n jong, dinamiese groep leiers wat reeds diep spore in die bedryf trap.
Groei en fokus
Agri SA het in die jongste tyd aansienlik gegroei en die organisasie is tevrede met die vordering. Net van Oktober verlede jaar af het hy drie bedryfsorganisasies en 18 korporatiewe lede bygekry. Van Zyl sê Agri SA se fokus is op die primêre landbou, en die sentrums van uitnemendheid staan sentraal, maar hy glo in nouer samewerking binne die waardeketting.
“Daar kan nie in vandag se tye nog verwydering binne die waardeketting wees nie.” Hy benadruk dat boere die meeste geraak word deur grondkwessies, skaliegas-ontginning en biologiese plae. “Dit gaan vir Agri SA oor die primêre landbou, maar baie maatskappye besef as die primêre landbou vou, vou hulle saam. Daarom wil die organisasie die sinergieë binne die hele waardeketting ontsluit,” sê hy.
Daar moet nie meer twyfel oor die relevansie van die sektor wees nie. Mense moet weet waar hul kos vandaan kom; en dit is van boere, en nie van Woolies nie. Gevolglik is alles wat binne Agri SA gedoen word, om boere te help, en dit sal altyd so wees. “Die boere is die organisasie se werkgewer en hulle bly die middelpunt.
Die jaarkongres vind op 12 en 13 Oktober plaas.