
AfriForum het ’n navorser aangestel om ’n omvattende studie te doen om antwoorde te vind vir die raaisels agter plaasmoorde.
Die studie sal meer as 100 gevallestudies regoor Suid-Afrika insluit. Dié aankondiging is in 'n nuusverklaring deur AfriForum gedoen. ’n Beroep is op die publiek gedoen om die organisasie te nader as hulle deur ’n plaasaanval geraak is of enige inligting het wat vir die studie van waarde kan wees.
“Daar is té veel vrae waarop nog nie antwoorde gevind is nie,” sê mnr. Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum. “Ons wil vasstel of ons neigings in hierdie aanvalle kan vasstel. Die debat oor die motief agter plaasmoorde verdien ook verdere ondersoek. Dan bestaan vrae oor hoe gereeld plaasaanvalle deur buitelanders gepleeg word, hoe gereeld dit die gevolg van arbeidsgeskille tussen boere en werkers is en watter veiligheidsmaatreëls die doeltreffendste is om plaasaanvalle te voorkom.”
Die studie sal deur me. Lorraine Claasen, ’n deskundige op plaasaanvalle, gedoen word. Claasen gaan, met die hulp van AfriForum se plaaslike strukture, meer as 100 gevallestudies reg oor die land behartig. Onderhoude sal gevoer word met slagoffers wat plaasaanvalle oorleef het, geliefdes van persone wat op plase vermoor is, plaaswerkers en veroordeelde plaasmoordenaars.