Toe die eerste kennisgewings van eise op plase in die Onderberg in 2003 in die Staatskoerant verskyn het, was die restitusieproses vir die meeste boere nog ’n onwerklikheid. Eers toe waardasies en prysonderhandelinge die volgende jaar momentum kry, het restitusie vir hulle ’n werklikheid geword.
Potensiële plaaskopers het onmiddellik belangstelling verloor as hulle verneem dat daar eise op ’n eiendom is. Só sê mnr. Gerhard van Niekerk wat 22 jaar in die Onderberg geboer het voordat hy hom in 2003 by ’n nasionale eiendomsagentskap aangesluit het.
Van Niekerk, vandag ’n eiendomspesialis, het die laaste paar jaar plase ter waarde van sowat R200 miljoen verkoop. Hy het verskeie herverdelingstransaksies gehanteer en het in baie restitusie-gevalle namens die grondeienaars met die staat oor pryse onderhandel.
Hy sê kennisgewings van eise op ’n paar plase het ook in 2005 en 2006 verskyn. Die oorgrote meerderheid eise is egter eers in 2007 en 2008 afgekondig, die sogenoemde “mass gazetting”. Sommige boere het die grondhervormingsproses as onafwendbaar beskou en hul plase op ’n grondslag van gewillige koper, gewillige verkoper aangebied.
Private plaasverkope het tot stilstand gekom en daar het eers weer ’n paar transaksies plaasgevind toe dit verlede jaar duidelik geword het dat die Regering nie geld het om vir die bykans R1,2 miljard se geoormerkte plase te betaal nie.
Maar wat het oor die afgelope 10 jaar met die prys van landbougrond in die gebied gebeur?
Van Niekerk sê hy stem saam met Absa Bank se siening dat landbougrond in die Onderberg met ongeveer 8% tot 13% per jaar gestyg het. ’n Voorbeeld is die restant van Seekoeigat 417JU van 650 ha suikerriet onder spilpunt-, sleeptou- (dragline) en semi-permanente besproeiing wat in Julie 2003 aan ’n private koper verkoop is wat die waarde van die suikkerriet op R50 000 per ha bereken het. Dit was vir ’n hoëpotensiaal-plaas in die ooste van die Onderberg wat betreklik naby aan die Komatisuikermeule geleë is. (Dit is steeds ’n baie gesogte gebied vir suikerrietverbouing.)
In Junie 2008 het drie plase in daardie spesifieke omgewing van eienaar verwissel, waarvan twee deur private kopers gekoop is (in elke geval die buurman). Die waarde van die suikerriet is op R73 000 per ha en R74 000 per ha bereken. In die eersgenoemde geval was die oes ingesluit en in die tweede geval was ongeveer 70% van die oes ingesluit.
“Dit dui op ’n gemiddelde styging van ongeveer 10% per jaar en ek glo dieselfde geld vir piesangplase wat, terloops, eenvoudig nie op die mark kom nie. Daar is ’n vraag na klein suikerplase van 20 ha tot 30 ha naby Malelane en kopers is bereid om tot R80 000 per ha te betaal. Onlangse politieke uitsprake het egter tot gevolg gehad dat verskeie voornemende kopers hul planne tydelik uitgestel het. Gevolglik is daar tans verskeie plase in die Onderberg in die mark,” sê Van Niekerk.
Was die boere se verwagtings vir pryse op hul grond opportunisties?
In enkele gevalle het grondeienaars prysverwagtinge gehad wat nie in normale toestande haalbaar sou wees nie. Dit was egter die minderheid en kan op een hand getel word en sover sy kennis strek, sê Van Niekerk, is geen sulke transaksies deurgevoer nie. In die meeste gevalle waar Van Niekerk namens die grondeienaar met die Regering oor prys onderhandel het, kon op 90% tot 95% van die gewaardeerde waarde ooreengekom word.
In baie gevalle het die feit dat die koopprys die oes uitgesluit het, vergoed vir die verskil, want die eienaar kon oes sonder om produksiekoste vir die volgende oes aan te gaan. Teen die huidige suikerprys is die netto brutomarge-waarde van die oes op die land (ná oeskoste) met die aanvang van die oestyd in April waarskynlik tussen R20 000 per haenR25 000 per ha, na gelang van die opbrengs en die afstand na die meule. Dit maak ’n groot verskil aan wat die verkoper uiteindelik in sy sak steek.
En het plaaspryse meer gestyg van 2000 tot 2005 as vanaf 2005 tot vanjaar?
Van Niekerk sê grondpryse styg wanneer produkpryse styg. In die vroeë 2000’s was die suikerrietprys laag en nou is dit hoog. Kopers behoort te koop wanneer produkpryse laag is, maar ongelukkig werk dit nie só nie.
“Ek dink tog nie ons kan sê die pryse het die afgelope vyf jaar minder gestyg as gedurende die vorige vyf jaar nie. Produkpryse het sikliese neigings en die mark reageer daarop. Die siklusse van die verskillende produkte volg nie dieselfde patroon gedurende ’n spesifieke tydperk nie en daar word in die Onderberg-gebied dikwels meer as een gewas op ’n plaas geproduseer.Die siklusse hef mekaar dus in ’n mate op.”
Wie was die grootste kopers?
Volgens ’n ontleding het 14 000 ha ter waarde van R164 miljoen in 2000 van eienaar verwissel. Geen van hierdie grondtransaksies het herverdeling of restitusie verteenwoordig nie. In ’n enkele geval het ’n swart private koper R350 000 vir 6,5 ha opgedok.
In 2003 is 9 400 ha vir ’n koopsom van R170 miljoen van die hand gesit. Dit het herverdelingstransaksies van R42,5 miljoen vir 1 900 ha en restitusietransaksies van R13 miljoen vir 577 ha ingesluit. Herverdeling- en restitusietransaksies was saam verantwoordelik vir 26% van die oppervlakte wat verhandel is.
In 2006 het eiendom van 18 200 ha ter waarde van R384 miljoen van hande verwissel. In dié geval het dit herverdelingstransaksies van R38,5 miljoen vir 2 500 ha en restitusietransaksies van R216,4 miljoen vir7200 ha ingesluit. Herverdelings- en restitusietransaksies het dus 53% van die verhandelde grondoppervlakte beslaan.
Die Grondeisekommissie het ’n groter rol as natuurlike kopers begin speel. Daar is tans restitusietransaksies ter waarde van R1,2 miljard in die munisipale gebied Nkomazi (waarbinne die Onderberg val) waartoe die Regering hom reeds verbind het, maar nie die nodige geld het om af te handel nie. Van hierdie transaksies, waarvoor koopooreenkomste reeds onderteken is, sal ná registrasie by die aktekantoor wys as verkope in 2008 en verlede jaar, sê Van Niekerk.
23 Desember 2010