‘n Span veeartse gaan Mpumalanga, die Vrystaat en die Oos-Kaap vir bek-en-klouseer fynkam. Mnr. Selby Bokaba, woordvoerder vir die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, sê die span moet seker maak dat die siekte nie na die provinsies versprei het nie. Die span sal ook diere in dié provinsies teen die siekte inent.
Hy sê Minister Tina Joemat-Pettersson het Donderdag (3 Maart) boere in die noordelike dele van KwaZulu-Natal besoek, waar ’n uitbreking van die siekte vroeër bevestig is. Kleinboere en kommersiële boere word tans deur die uitbreking geraak. ’n Verbod is op alle uitvoer van diere met gesplete hoewe geplaas.
Grensheining ’n voorrangsaak
Bokaba sê die inister was ontsteld om te hoor dat die grensheining tussen Mosambiek en Suid-Afrika ontbreek. “Die minister het die provinsiale departemente opdrag gegee dat alles gedoen moet word om dié heiniing opgerig te kry. Dit moet voorrang geniet”.
Joemat-Pettersson het boere wat deur die uitbreking geraak word, verseker dat die departement hulle op die hoogte sal hou van die jongste ontwikkelinge rondom die siekte. Die eerste gevalle waar kliniese simptome onder diere waargeneem is, is reeds aangeteken.
Die minister het ook aangedui dat die staat met die regerings van Mosambiek en Swaziland oor dié uitbreking asook grensbeheer sal vergader.
Padblokkades
Intussen gaan die Polisie en verkeersbeamptes in die komende weke padblokkades in KwaZulu-Natal hou om die vervoer van diere te monitor en die verspreiding van die siekte te probeer beperk.
4 Maart 2011