
In ’n nuusbrief wat in November aan die groep se lede gestuur is, skryf mnr. Stéfan Oberholzer, besturende direkteur van OVK, dat die maatskappy die vorige maand bewus geword het van wanbestuur of ongerymdhede in die logistieke afdeling “wat wesenlike verliese tot gevolg kan hê”.
Hy skryf verder dat OVK intussen forensiese ouditeure aangestel het om die omvang en aard van die wanbestuur te bepaal. “Geen steen word onaangeraak gelaat in die ondersoek van hierdie saak nie.”
Daar is ook onderneem om aan die lede terugvoer te gee indien die maatskappy meer inligting oor die kwessie het.
In antwoord op ’n navraag oor die aard en omvang van die beweerde ongerymdhede, sê me. Christel Basson, bestuurder van bemarking en kommunikasie, dat OVK in hierdie stadium geen kommentaar lewer nie weens die forensiese ondersoek.
Die groep, met sy hoofkantoor op Ladybrand, het 53 handelstakke in vier provinsies en is ’n agent vir handelsname soos Massey Ferguson, Claas en Fendt. Hy het ook drie Toyota-agentskappe. OVK het belange in graan en graanbemarking en is die naasgrootste veselmakelaar en -hanteerder in Suid-Afrika.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.