
Pres. Jacob Zuma het nóg ’n proklamasie goedgekeur sodat die Spesiale Ondersoekeenheid ondersoek kan instel na beweerde ongerymdhede, wanbestuur en onwettige optrede by die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming.
Vorige ondersoeke ná die toestaan van só ’n proklamasie, wat op versoek van mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, goedgekeur was, het reeds vrugte afgewerp. Verlede jaar is plase ter waarde van bykans R470 miljoen aan die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming terugbesorg nadat dit uit die korrupte hande teruggevat.
Sekere amptenare het met ander partye saamgespan om die departement te bedrieg. Van dié misdade het vanaf 1 Januarie 2006 tot 18 Februarie 2011 plaasgevind.
Bedrieglike toestaan van toelaes
Die ondersoek wat begin het by die bedrieglike toestaan van grondtoelaes van byna ’n half miljard rand, het gou ook uitgekring na plase wat nie aan begunstigdes oorgedra is nie.
Nkwinti het op ’n vorige geleentheid aan Landbou.com gesê dat indringend gekyk moet word na bewerings dat amptenare van sy departement voordeel getrek het uit sekere transaksies vir grondhervorming.
Bewerings van ongerymdhede
Die proklamasie wat Zuma goedgekeur het se fokus is op bewerings van ongerymdhede by die aankoop van sekere plase en by die identifisering, kies en aanstel van die strategiese vennote en begunstigdes van die plase.
Dan ook die wanaanwending van finansiering vir herkapitalisering en onbehoorlike optrede deur amptenare van die departement of enige ander persoon of entiteit wat betrokke sou wees.