Ná verskeie klagtes teen dr. Andile Dyasi, uitvoerende hoof van Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP), “verseg” me. Tina Joemat-Pettersson, Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, om dié klagtes te ondersoek, sê Solidariteit.
Luidens ‘n verklaring hou die minister vol dat die OBP-raad nie dissiplinêre stappe teen Dyasi mag neem nie. Slegs sy het die mag om dit te doen.
Die klagtes teen Dyasi is vroeër deur die raad bespreek en daar is besluit om dissiplinêre stappe te neem. Hy het intussen aansoek gedoen vir ? interdik teen die beoogde stappe deur die raad.
Omstredenheid oor dienskontrak
Volgens die vakbond is ? formele dienskontrak tussen Dyasi en OBP na bewering nooit deur die minister bekragtig nie.
Dyasi het glo ook nie sekerheidklarings, wat deel van die voorvereistes van die aanstelling is, gekry nie. Solidariteit sê deel van die aanstellingsproses is die verkryging van sekerheidsklaring omdat die OBP as ? nasionale sleutelpunt ingevolge die relevante wetgewing verklaar is.
Onprofessionaliteit
“Minister Joemat-Pettersson se optrede is baie onprofessioneel. Nie net is daar duidelike vraagtekens oor die wettigheid van Dyasi se aanstelling by OBP nie, maar nou dat daar ernstige klagtes teen hom gelê is, gaan sy uit haar pad om hom te beskerm, terwyl dieselfde proses destyds ook met die skorsing van mnr. Jacob Maroga by Eskom gevolg is, waarna bevind is dat die raad binne sy regte opgetree het,” sê dr. Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit.
Die klagtes teen Dyasi sluit in onder meer beweerde bedrog, wangedrag, selfverryking, diskriminasie teen vakbonde en oneerlikheid. Hy is in April geskors, maar het aangedring dat die skorsing weens ‘n brief van die minister ter syde gestel moet word. Volgens die brief is slegs die minister by magte om hom te skors en moes hy onmiddellik terugkeer werk toe.
Hy het glo ook geweier om ‘n tugverhoor wat die raad in Mei geskeduleer het, by te woon.
Dyasi se aansoek vir ? interdik teen die beplande dissiplinêre optrede deur die raad, kom Donderdag (9 September) in die hof voor.
8 September 2010