
Só vertel mnr. Skip van Jaarsveld, ’n sitrusboer in Kwaggaskloof buite die Oos-Kaapse dorp Patensie in die Gamtoosvallei.
Op die vyfde dag van geweldpleging tussen plaaslike werkers en trekarbeiders word die oestyd van boere só erg beïnvloed dat derduisende kratte vol vrugte in pakhuise lê en nie uitgevoer kan word nie.
Tussen die boer by Patensie en sy klante anderkant Hankey lê 10 km teerpad waarvan dele gebrand en met klippe, stene en stokke toegepak is om te verhinder dat vragmotors en werkers tussen die dorpe kan beweeg in die spitstyd van die sitrusoesseisoen.
“Ek het net een paklyn wat nou loop, terwyl ek verlede week twee gehad het. Meer as 80 van my werkers wat in Hankey bly, kan nie by ons uitkom om te werk nie,” vertel Van Jaarsveld.
“’Ek moes al van die kantoorpersoneel na die pakhuise stuur om te help vrugte pak. Ja, dit is net ’n paar dae wat ontwrig word, maar ons praat van groot geld wat verlore gaan en wat die gemeenskap ook verloor.”
Na verneem word, het die onluste Saterdagaand uitgebreek toe plaaslike werkers “oorlog verklaar” het teen trekarbeiders – die meeste is vanaf Lesotho en Zimbabwe – en eis dat hulle die gebied verlaat.
Die trekarbeiders word van twee moorde verdink nadat ’n 45-jarige man vroeg Sondagoggend in ’n straat aan veelvuldige steekwonde beswyk het. Kort daarna is ’n 65-jarige man – ook met steekwonde – ’n paar strate verder aangetref.
Kol. Priscilla Naido, polisiewoordvoerder, het aan Landbouweekblad gesê hoewel niemand al vir die moorde in hegtenis geneem is nie, beskuldig plaaslike inwoners die buitelanders van die twee moorde.
Maandagaand het sowat 300 inwoners na die buitelanders se huise opgeruk om hulle en hul gesinne aan te val. Die buitelanders het terugbaklei en die inwoners met klippe bestook.
’n Dag later is ’n 28-jarige burger van Lesotho dood aangetref.
Dit was toe dat inwoners die hoofroete tussen Hankey en Patensie versper het om te verhinder dat trekarbeiders op Hankey na Patensie kan gaan om te werk.
“Dit is nie ’n lekker ding hierdie nie. Ons as boere voel magteloos,” sê Van Jaarsveld.
“Gister het een van die werkers na my gekom – sy was in trane en haar hande het gebewe. Sy was bang dat die onluste na Patensie sou oorspoel en haar familie ook in gevaar gaan wees.”
Volgens mnr. Phillip Dempsey, direkteur van die Suider-Afrikaanse Sitruswerkersvereniging, het verskeie trekarbeiders reeds in busse teruggekeer na Lesotho.
Kritieke tyd
“Dit is ’n groot verlies vir die boere, omdat dit ’n kritieke tyd vir hul boerdery is. Die werkers kom jaarliks hierheen om vrugte te pluk. Van hierdie families – wat wettige seisoenale plukkers is – moes nou na ’n gebied buite Hankey vlug waar daar geen water, kos of behuising is nie.”
Dempsey sê pakhuise was die afgelope paar dae net 50% produktief en die omvang van die finansiële impak wat die onluste op die boerderye het, sal eers later bepaal kan word.
“Die meeste boere het besluit om die vrugte vir nou eerder aan die bome te hou as om dit te pluk en in kratte te laat lê.”
Hy vertel die boere vrees die situasie ruk so handuit dat trekarbeiders en hul gesinne te bang sal wees om in die volgende seisoen terug te keer. Jaarliks is die werk gedurende die oesseisoen te veel vir plaaslike hande.
Intussen probeer boere ’n alternatiewe roete gebruik om hul produkte uit te voer – maar dit is ’n grondpad wat boere sukkel om in stand te hou.
“Ek het vrugte in kartonhouers wat ek met die grondpad by Durban gaan probeer uitkry. Daardie pad is baie sleg. Kan jy dink hoe die vrugte gaan lyk as dit ooit daar gaan uitkom?” sê Van Jaarsveld.
“Maar ons bid. En ons wil glo hierdie ding sal vinnig tot ’n einde kom en dat die skade vir die boer nie erger sal word nie.”
Teen Vrydagoggend het Naido gesê die polisie is op die toneel in Hankey om die situasie te monitor. Hoewel niemand al vir een van die moorde aangekeer is nie, is iemand wel in hegtenis geneem vir openbare geweldpleging en die beskadiging van ’n openbare pad.
“Die situasie is onder beheer, maar dit is onbestendig.”