
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens se eenheid vir openbare orde kry opskerpingsopleiding en 10 000 meer polisielede sal aangestel word om te verseker dat Suid-Afrika nie weer blootgestel word aan gewelddadige, vernietigende onluste soos wat in Julie vanjaar in KwaZulu-Natal en Gauteng plaasgevind het nie.
Die onluste het skade van nagenoeg R50 miljard meegebring, waarvan die skade aan die KwaZulu-Natalse landbousektor nagenoeg R2 miljard beloop. Sowat ’n miljoen liter melk van R6 miljoen moes weggegooi word en ’n 80%-daling is gesien in die lewering aan, verhandeling by en insameling van Gautengse varsproduktemarkte.
Mnr. Cassel Mathale, adjunkminister van polisie, het tydens ’n vraag-en-antwoordsessie in die nasionale vergadering aangedui dat die polisie se misdaadintelligensie beter is en dat die polisie nie weer onkant gevang sal word soos in Julie nie.
Mnr. Henry Shembeni, EFF-LP, het gesê die 2019-verslag van die polisie se burgerlike sekretariaat het aangedui dat 60% van polisiebeamptes polisiewerk doen en 40% kantoorwerk. Die verslag het ook aangedui dat die polisie:burger-verhouding in Suid-Afrika baie laer is as wat die Verenigde Nasies vir ’n land soos Suid-Afrika voorstel.
Hy het gevra watter ingrypings is sedertdien gedoen sodat meer polisiebeamptes in die veld werk.
Mathale het gesê oor die jare het die getal polisiepersoneel afgeneem. In 2019 is besluit om elke jaar 5 000 rekrute in te neem. Dit is gedoen totdat die covid-19-pandemie die proses onderbreek het.
Hy het gesê dat 10 000 rekrute in die 2022-’23-boekjaar ingeneem sal word. Daar is reeds met die tesourie gepraat oor die nodige finansiering. Die meeste rekrute sal na die eenheid vir openbare orde gaan. Die eenheid het 5 005 lede teenoor 12 000 wat benodig word.
Me. Tina Joemat-Pettersson, voorsitter van die portefeuljekomitee op polisie, wou weet watter stappe gedoen is om vrede en stabiliteit ná die onluste te verseker en wat die plan is om die kapasiteitsbehoeftes te vul.
Volgens Mathale is gebeurlikheidsplanne in die geaffekteerde gebiede ingestel en misdaadintelligensie vloei doeltreffend. Polisiebeamptes is op bystand indien interprovinsiale ontplooiing benodig word. Lede van die eenheid vir openbare orde kry opleiding en diegene wat reeds opgelei is, se opleiding word opgeskerp.
“Dit was duidelik uit die Julie 2021-onrussituasie dat voldoende lede van die eenheid vir openbare orde vir skarebestuur benodig word. Maatreëls is getref om te verseker dat toerusting en voertuie, insluitend pantservoertuie, onderhou word en gereed is vir ontplooiing wanneer dit nodig is.”
Voorstelle
In Augustus, net ná die onluste, het lt.genl. Sehlahle Masemola, adjunk- nasionale kommissaris van die polisie, aan die gekose komitee vir sekuriteit en justisie gesê dat opleiding verbeter moet word sodat die polisie en wetstoepassers opleiding kry om voorbereid te wees vir meer wydverspreide onluste of gevalle waar onluste op verskillende plekke gelyktydig plaasvind.
Die eerste respondente van polisiekantore moet uitgaan om met die betogers te onderhandel, en die eenheid vir openbare orde ontbied. Hy het uitgewys daar was nog nooit vantevore so ’n grootskaalse opstand gelyktydig op verskillende plekke in Suid-Afrika nie.
Lt.genl. Godfrey Lebeya, hoof van die Valke, het gesê dat daar meer belê moet word om lede van wetstoepassingsagentskappe onder meer fiks te kry en hul geestestoestand te verbeter vir wanneer hulle baie stresvolle situasies soos die onlangse onluste moet hanteer. Die polisie het ook aangedui dat die behoefte vir ’n mobiliseringsplan bestaan sodat verseker kan word dat gemeenskappe gemobiliseer word in grootskaalse onlussituasies om met voorstelle vir ingryping vorendag te kom.